MAKLIKE GEBAKTE KAASKOEK
Hierdie is die maklikste gebakte kaaskoek wat ek nog gemaak het en bly een van my gunstelinge. Kaaskoek is mos maar ‘n lekkerny wat sy tyd neem en jy moenie haastig wees nie.
Nota:
Ek het die roomkaas gemaak van die resep op die blog en dit gebruik vir die kaaskoek. https://yourrecipeblog.com/recipes/maaskaas-roomkaas/
- Kors:
- 250 g droë koekies van jou keuse (Ek het tuisgemaakte sjokolade-amandelkoekies gehad)
- 50 – 80 g botter, gesmelt
- Koek:
- 2 koppies roomkaas
- 1 blik kondensmelk
- 3 eiers
Pan:
Ek het ‘n 20 cm ronde silikoon koekpan gebruik, die koekies onderin vasgedruk en binne ‘n 20 cm blikpan geplaas.
Indien jy ‘n gewone koekpan gebruik, smeer die pan en plaas ‘n skyf bakpapier in voordat die krummels geplaas word. Dit vergemaklik die verwyderingsproses van die koek.
Kap die droë koekies fyn in ‘n voedselverwerker of met ‘n koekroller.
Meng gesmelte botter met koekies tot goed gemeng. Indien dit te krummelrig is, voeg nog klein bietjie gesmelte botter by. Druk die krummels in die pan vas om ‘n kors te vorm.
Plaas die pan met die koekiemengsel in die vrieskas sodat dit vinnig stewig kan raak.
Klits die roomkaas en kondensmelk saam tot net goed gemeng. Moenie te veel klits nie.
Voeg dan die eiers een vir een by en klits tot goed gemeng.
Verwyder koekpan met kors uit vrieskas en gooi kaaskoekmengsel stadig oor ‘n lepel in die pan.
Plaas op ‘n bakplaat of binne ‘n blik koekpan vir stabiliteit.
Bak kaaskoek teen 160ºC vir 60 – 70 minute.
Skakel oond af en los die koek in tot afgekoel (dit verhoed dat die koek bo-op bars)
Plaas die afgekoelde kaaskoek oornag in die yskas.
Versier soos verkies.
Ek het die maklike karamelsous op die blog gemaak en bo-oor gegooi.
https://yourrecipeblog.com/recipes/maklike-karamelsous/
Nota:
Ek sit ‘n stukkie kleefplastiek bo-op die koek, dan ‘n bord. Draai die koekpan versigtig om sodat die kaaskoek op die bord op die plastiek uitgly. Gebruik dan ‘n gewone bord om die koek weer om te draai met kors na onder.
Resep en foto: Bernadene Prinsloo
fantastiese kaaskoek ons is mal oor hom