Your Recipe Blog

MAKLIKE AMBAGSBROOD – EASY ARTISAN BREAD

Avatar photo
Recipe by
8 - 18 ure
Cook: 40 minute | Servings: 1 broodjie

MAKLIKE AMBAGSBROOD – EASY ARTISAN BREAD

Hierdie brood is regtig maklik, en afgesien van die tyd wat mens moet wag, regtig so vinnig. Hoe langer hy staan hoe meer proe mens die suurdeeg in hom. Regtig heerlik, en ook baie lekker wanneer mens hom “toast”

  • 3 koppies koekmeel, teen kamertemperatuur
  • 1 teelepel kitsgis, maak seker dit is vars
  • 1¼ teelepel sout
  • 1 teelepel suiker
  • Ongeveer 350 – 400 ml sterk louwarm water (ongeveer 40 ºC)
  • ekstra meel vir wanneer jy die brood gaan bak

Plaas die gis en suiker in ‘n beker saam met 125 ml van die water. Sit eenkant neer vir ongeveer 10 min. Wanneer daar borreltjie en skuim vorm is jou gis reg vir gebruik, indien nie, is die gis verby die verval datum, en sal jy dit moet weggooi en nuwe gis koop en gebruik.
Meng die meel en sout saam in ‘n groterige diep bak. Maak ‘n holte in die middel.
Wanneer jou suurdeeg reg is voeg 250 ml lou warm water by die suurdeeg, meng goed en giet die suurdeegmengsel in die holte in die meel.
Meng goed deur, en indien die deeg te styf is, voeg die res van die water by en meng deur. Vir my werk 390 ml perfek.
Dit is ‘n redelike slap deeg, maar nie pap nie.
Sit kleefplastiek of ‘n deksel oor die bak en laat staan teen kamertemperatuur vir 8 – 18 ure.
Die deeg sal baie rys, maar sal teen more oggend weer bietjie gesak het, en die deeg sal nou slapper wees as toe jy dit gemeng het.

Wanneer jy die brood wil bak, sit ‘n oondvaste pot of keramiekbak met ‘n deksel (dieper as 10 cm en ongeveer 20 cm rond) in die oond, en verhit die oond tot 230 ºC.
Haal die kleefplastiek of deksel af van die deeg af en besprinkel die deeg met koekmeel.
Maak die deeg aan die kante los met ‘n skraper – MAAR MOET NIE MENG NIE.
Strooi lekker baie meel op jou werksoppervlak en keer die deeg uit op die meelbestrooide oppervlakte.
Sprinkel nog meel bo-oor en werk met jou hande om die deeg net so bietjie bymekaar te kry in ‘n bol.
Vorm die deeg tot rond – MAAR MOENIE TE VEEL MENG NIE.
Sit ‘n stukkie bakpapier in ‘n ander skottel en tel die deeg op die bakpapier in die skottel.
Laat staan net so tot jou oond en pot/bak warm is. Tel die bakpapier versigtig op en plaas dit in die warm pot/bak. Wees versigtig die pot en deksel is baie baie warm. Sit die deksel op.
Sit terug in die oond en bak vir 30 minute met die deksel op. Haal die deksel af en bak vir nog 10 minute vir mooi kleur.
Haal die brood uit die oond, lig af van die bakpapier af en plaas op ‘n afkoel rakkie.

Nota:
As jy nie ‘n bros kors wil hê nie draai jy die brood toe in kleefpastiek sodra dit afgekoel het tot jy dit met gemak kan hanteer, anders kan jy net die brood toemaak in ‘n skoon vadoek en laat afkoel.

Resep aangepas deur Rina Kleinhans
Foto’s: Rina Kleinhans
3de foto:  Bruin ambagsbrood – gebruik bruin broodmeel en ‘n halwe koppie semels ekstra, die res bly dieselfde.

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5