LIGTE SJOKOLADE KOEK
Vandag bietjie speel met soet goed. Ongelooflike sagte koek, “fluffy”. Ek sal wel dalk eerder volgende keer die kakao in die water oplos en dan by voeg. Ek voel die koek kon ‘n meer definitiewe sjokolade smaak gehad het.
- ½ koppie water
- 4 eiers
- ½ koppie melk
- ½ koppie kookolie
- 2 koppies koekmeel
- 2 koppies suiker
- 2 hoogvol teelepels bakpoeier
- 3 eetlepels kakao
- knippie sout
Meng al die droë bestanddele saam. Klits eiers goed en voeg suiker bietjie vir bietjie by – klits goed.
Op die stoof in ‘n potjie, verhit melk, olie en water tot net warm, maar nie kookpunt nie.
Voeg geleidelik warm vloeistof en droë bestanddele by die eiermengsel.
Verdeel in 2 ronde groot voorbereide koekpanne en bak teen 180ºC vir 25 minute.
Ek het hom in ‘n vierkantige oondbak gemaak en toe sirkels uitgesny – omrede ek nie klein ronde panne het nie. In die middelste laag het ek die middele uitgesny en Whispers ingegooi. Versier met ‘n blikkie karamel wat ek met ‘n vurk geklop het tot glad – net ‘n ligte klop.
Bo-op het ek Whispers gesit en ‘n sjokolade met wafers gekrummel bo-op en stukkkies binne gesit.
Resep en foto: Stephanie Kohrs Ferreira