LEKKERSTE PAMPOENKOEKIES
“Vandag vir manlief bederf met ‘n ordentlike bord boerekos, want volgende week moet hy my bederf. Daar was gammon, tuisgemaakte KFC, braai aartappels, pampoenkoekies, blomkool en broccoli met kaassous, wortels, gegeurde rys en sweet en sour beetslaai en vir nagereg was dit net roomys. Hier is die pampoenkoekiesresep. Afhangende van die muffinpannetjies se groote kry ek so ± 12 tot 21 koekies. Dis heerlik smaak soos poeding.”
- 500 ml gaar pampoen
- 50 ml margarien, gesmelt
- 50 ml bruinsuiker
- 5 ml vanilla geursel
- 2 eiers, liggies geklits
- 125 ml koekmeel
- 5 ml bakpoeier
- bietjie fyn kaneel en ekstra bruinsuiker vir bo-oor sprinkel
- Karamelsous:
- 250 ml melk of room
- 125 ml suiker
- 50 g botter
- 5 ml karamel- of vanilla geursel
- Maizena vir verdikking
Verhit die oond tot 190 °C en smeer muffinpannetjies.
Meng al die bestanddele saam.
Skep mengsel in pannetjies en sprinkel bietjie fyn kaneel en bruinsuiker oor.
Bak vir 30 minute of tot gaar.
Karamelsous:
Plaas die sous bestanddele in ‘n potjie op die stoof. Los op en kook vir vyf minute.
Verdik met bietjie Maizena (in klein bietjie water opgelos).
Kook tot verlangde dikte.
Skep lepelsvol van die warm sous oor die pampoenkoekies sodra dit uit die oond kom.
Laat staan sodat sous in die pampoenkoekies kan intrek.
Resep: Anet Grove
Geplaas deur Noelene Rutledge Saal
Foto’s: Noelene Rutledge Saal, Pieter van Niekerk en Paula Vuyk
Notas:
Anet Grove
Ek het dit baie lanklaas gemaak, ek wil amper dink so 12. En vir die sous gebruik ek melk.
Ansuné Van Der Westhuizen
Sover ek kan onthou het ek sommer melk gebruik en het ek dink so ±20 uit gekry. Beslis meer as 18. Ek het so 2 weke terug hierdie pampoen koekies weer gemaak en dit probeer vries met die stroop klaar oor, het gisteraand van die gevriesdes ontdooi en dit was steeds heerlik en sappig. So dit kan met sukses gevries word as die stroop reeds oor is.
Jaquleen Myburg
Ek het nou net die “Lekkerste pampoenkoekies met karamelsous” resep op die blad uitprobeer. Oh my word! Dit is absoluut fantasties en so maklik. Sal nooit weer pampoenkoekies op ‘n ander manier maak nie. Baie dankie vir die resep!
Paula Vuyk:
Ek het vandag weer die gebakte pampoenkoekies op die blog gemaak. Dit bly altyd ‘n groot treffer in ons huis. Ek gebruik botterskorsie (butternut) en kook dit saam met ‘n kaneelstokkie. Heerlik!