LAE KOOLIDRAAT MALVAPOEDING
As julle moeg raak vir my is dit heeltemal reg… maar as ek ‘n keto/low carb resep maak wat so lekker is dat ek dit met almal wat die manier van eet volg, of ‘n diabeet is en so moet eet wil deel, dan gaan ek. Low carb malvapoeding, nie my resep nie, maar Iné Reynierse van s’n, al het ek dit bietjie aangepas. Die nagereg is soos ‘n kruising tussen malvapoeding en vrugtekelkiepoeding (minus die vrugtekelkie)… en dis heerlik!
- Droë bestanddele:
- 1 koppie amandel/sonneblompitmeel
- ½ koppie fyn klapper
- 1 teelepel koeksoda
- 1 teelepel bakpoeier
- knypie sout
- Eiermengsel:
- 2 eiers
- 2 eetlepels xylitol (of versoeter na smaak)
- 1 teelepel verminderde suiker appelkooskonfyt
- 2 teelepels vanilla geursel
- Melkmengsel:
- 4 eetlepels botter
- ½ koppie amandelmelk (onversoet)
- 1 teelepel asyn
- 1 teelepel vanilla geursel
- Roommengsel:
- 1 koppie room
- 4 eetlepels botter
- 2 eetlepels xylitol (of versoeter na smaak)
- 1 teelepel vanilla geursel
Meng die droë bestanddele saam.
Verhit die botter en melk van die melkmengsel se bestanddele in ‘n pot saam tot kookpunt.
Roer die asyn en vanilla by. Voeg by die droë bestanddele en meng goed.
Klits die eiermengsel se bestanddele goed saam en voeg by die res van die bestanddele. Roer goed.
Giet in ‘n gesmeerde 10 x 20 x 5 cm oondbak en bak 25 -30 minute by 180°C.
Verhit die roommengsel tot kookpunt in ‘n pot, en giet oor die poeding sodra dit uit die oond kom.
Bedien met room.
Foto en resep geplaas deur Ilze Jacobs