KRUIE EN SPESERYE PASTA
Tumeric/borrie, kaneel, rooipeper en gemmer is UITSTEKENDE ANTI-Oksidante vir ‘n BAIE SLEGTE verkoue, soos die een wat ek het. Ek het bietjie ge-eksperimenteer vanaand en was aangenaam verras met die resultate.
- 1 ui, opgekap
- 1 koppie pasta van jou keuse
- 20 ml maizena
- 20 ml tamatiepasta
- 5 ml borrie
- 5 ml kaneel
- 5 ml rooipeper
- 5 ml fyngemmer
- 1 lekker groot knoffeltoontjie, fyn gerasper
- 5 ml gemengde kruie
- sout en swartpeper, na smaak
Kook die pasta in ‘n pot met 3 koppies water, 5 ml sout en bietjie kookolie tot al dante. (Gaar maar nie pap nie).
Braai die ui in bietjie botter en kookolie tot sag en deurskynend.
Voeg al die kruie, speserye en maizena in ‘n maatbeker en meng baie goed saam. Voeg nou 250 ml water daarby en meng weer deur tot ‘n gladde mengsel. Voeg laaste die tamatiepasta by en roer deur.
Voeg hierdie mengsel by die pasta in die pot. Voeg nog 250 ml water by en kook 5 minute vinnig. Geur met sout en swartpeper.
Bedien dadelik soos verkies.
Nota:
Ek het gemengde groente gestoom en gemeng met bietjie botter, sout, swartpeper en so titseltjie gedroogde mintblare en daarby saam gebraaide kortrib in my George Forman se grill masjientjie bedien.
Hierdie ete is genoeg vir een persoon maar kan met sukses vermeerder word.
Foto en resep: Wilma Josey Venter