KOUE SPEK- EN SPANSPEKSOP
Dié koue sop is net die regte ding om ’n Somerkuier om die tafel af te skop.
- 45 ml olyfolie
- 250 g spek, in blokkies gesny
- 2 groot spanspekke, geskil en grofgekap
- 1 rooiui, fyngekap
- 2 rooi brandrissies, fyngekap
- 1 groot handvol koljanderblare
- 350 ml hoenderaftreksel
- 80 ml kersie-asyn
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 250 ml ongegeurde jogurt
- 3 ryp perskes, ontpit en in skywe gesny
- groenertjiespruite vir garnering
Verhit olie in ‘n pan en braai die spek tot goudbruin en bros, sowat 5 – 10 minute.
Plaas die spek saam met al die bestanddele, behalwe die jogurt en perskes, in ’n groot bak.
Gebruik ‘n staafmenger (stick blender) om die mengsel tot ‘n gladde puree te verwerk.
Geur goed met sout en peper en plaas in die yskas tot baie koud.
Voeg die jogurt by en meng deur.
Skep die sop in ‘n opdienbak, plaas die perskeskywe bo-op en garneer met groenertjiespruite.
Sit voor met parmesaan-broodstokkies.
Resep en foto: Amanda Theunissen