KOUE LAMSBOUDPASTEI
Vroulief het vanaand vir ons die heerlike vleispastei gemaak van die oorskietvleis van die boklamsboud. Dit was baaaaaaaaaie lekker.
- 600 – 700 g oorskiet lamsboudvleis, gepluis
- 1 gesnyde ui
- 1 teelepel sout
- ½ teelepel witpeper
- 1 teelepel rissievlokkies (chilli flakes)
- 1 teelepel knoffelvlokkies
- 1 teelepel Italiaanse kruie
- 1 pakkie sampioen soppoeier
- 1 koppie melk
- 1 rol skilferkors
- ekstra melk, vir oor verf
Braai die ui tot gaar in dieselfde panvette waarin die boud gaargemaak was. Roer die ui en die skrapnel wat in die pan agtergebly het by die gepluisde vleis in. Meng sout, peper, rissievlokkies, knoffelvlokkies en kruie by die vleis en ui in.
Meng die melk en sampsioen soppoeier en roer dit deur die vleismengsel.
Rol die skilferkorsdeeg dun uit en deel dit in twee dele, soos een-derde en twee-derde stukke. Plaas die twee-derde stuk in ‘n gespuite oondbak en bedek die bodem en sykante van die bak met die deeg.
Skep die vleismengsel op die deeg in die bak en plaas die ander derde deel deeg oor die vulsel en druk die rante mooi vas.
Verf bietjie melk bo-oor die deeg, maak 3 gaatjies in die deeg deksel vir die stoom om te kan ontsnap. Bak in ‘n voorverhitte oond vir 60 minute op 180 °C.
Resep en foto’s: Gideon Louw