KOMBUISWENKE A TOT Z
Aanbrandsel:
Ek het nou die dag my pappot verbrand en gesukkel om die swart onder af te krap. My dogter kom daar aan en sy voeg ‘n bietjie Domestos met bietjie water in die pot en maak effens warm. Die swart kom af sonder skuur of enige gesukkel, die pot lyk weer normaal. – Anoniem
Vir enige potte wat erg aangebrand het, voeg een koppie jik of domestos in die pot en laat dit een uur staan en spoel uit. Daar bly nie ‘n teken van brand oor nie.
Strooi koeksoda op die aangebrande deel in ‘n pot en maak klam met ‘n bietjie water.
Citrus soda en asyn maak ‘n aangebrande pot sommer vinnig skoon.
Aanpaksel:
Vir die aanpaksel in jou ketel, voeg een pakkie of 3 eetlepels wynsteensuur in die ketel, kook en spoel ketel uit. Dis onmiddellik skoon.
Aartappel:
Gerasperde ui gee ’n besondere smaak aan kapokaartappels.
’n Bietjie melkpoeier oor gekookte aartappels en kapokaartappels maak dit mooi donsig.
Ou aartappels moet eerder geskil word voor dit gekook word. Plaas die skil ook in die water om die voedingswaarde te verhoog.
Voeg ‘n eetlepel melk in ‘n kastrol waarin jy aartappels kook. Dit voorkom dat dit kleur verloor.
Laat aartappels vooraf vir ‘n halfuur lank in melk lê om mooi bruin te bak.
Om te verhoed dat aartappels uitloopsels maak, plaas ´n vars groenappel by die aartappels.
‘n Knippie bakpoeier by kapokaartappels maak dit sag en lig.
Voeg suurlemoensap by die water as jy ´n aartappel met skil en al kook. Die aartappel sal wit wees en jou potte sonder vlekke.
Voeg 5 mℓ asyn by die water waarin jy aartappels kook, dit sal mooi wit bly. Jy kan ook 10 mℓ asyn by die water voeg waarin die geskilde aartappels is om te verhied dat dit verbruin.
Aïoli:
Indien jy nie tyd het om Aïoli te maak nie, kan jy knoffel met mayonnaise meng as ’n plaasvervanger.
Appels:
Gebakte appels sal nie plooi indien jy ´n paar klein snytjies in die skil maak voor hulle oond toe gaan nie.
Appels word makliker geskil indien dit vooraf ´n paar minute lank in kookwater lê.
Avokado:
Strooi meel oor avokado’s en draai dit toe in koerantpapier. Plaas dit onder in die oondlaai. Dit sal gouer ryp word.
Maak ‘n avokado vinnig ryp deur dit in meel te begrawe.
Avokado’s sal tot twee weke in die yskas hou. Plaas hulle in die groentelaai om ryp te word.
Bak:
Indien jy ‘n spesifieke vorm soek om mee te bak en jy kan dit nêrens opspoor nie kan jy jou eie maak uit foelie.
Bakpoeier:
‘n Plaasvervanger vir 20 ml bakpoeier is 10 ml kremetart plus 5 ml koeksoda.
Beskuit:
Wanneer jy beskuit bêre, strooi ‘n laag suiker onder in die houer om dit langer vars te hou.
Beskuit kan tot 3 maande in ‘n lugdigte houer gehou word.
Botter gee ‘n beter geur aan beskuit as margarien.
Sny vars beskuit met ‘n elektriese mes. Dit voorkom dat dit te erg breek.
Plaas ‘n koppie water in die mikrogolfoond wanneer jy gevriesde beskuit ontdooi. Die vog sal verhoed dat dit uitdroog.
Beskuitjieblik:
‘n Eetlepel suiker hou die inhoud van ‘n beskuitblik vars.
Beskuitjies:
Om beskuitjies maklik te verkrummel, plaas hulle in ‘n sterk plastieksak, druk dit eers met ‘n koekroller stukkend en rol dit daarna fyn.
Blaarslaai:
Plaas ‘n papierservet in die yskashouer saam met blaarslaai. Dit absorbeer die vog en sorg dus dat die blaarslaai langer vars bly.
Plaas blaarslaai in suikerwater, dit sal weke vars bly.
Blikkieskos:
Skryf die datums op jou blikkieskos. Dan kan jy seker maak jy gebruik altyd die oues eerste.
Blikpanne:
Skrop muwwerige panne wat roes, skoon met asyn en laat droog word in die son.
Blomkool:
Kook ‘n paar lourierblare saam met blomkool indien jy nie van die reuk in jou kombuis hou nie, dan ruik jou kombuis baie lekkerder.
Plaas ‘n stukkie suurlemoenskil in die water wanneer jy blomkool kook. Dit hou die blomkool mooi wit.
Botter:
Botter moet kamertemperatuur wees wanneer dit vir gebak gebruik word.
Kookolie kan as ‘n plaasvervanger vir gesmelte botter gebruik word.
Wanneer jy botter room, spoel eers die bak met kookwater uit. Dit maak dit baie makliker.
Hou die botterpapier wanneer die botter opgebruik is. Jy kan dit gebruik as smeermiddel vir panne en bakke voor bak.
Braaipan:
‘n Elektriese braaipan kan met foelie uitgevoer word om dit vlekloos te hou.
Bredie:
Voeg ‘n avokadopeer by ‘n bredie net voor opskep, dit gee die bredie ‘n heerlike smaak.
Broccoli / Brokkoli:
Maak ‘n X-vormige snit in broccoli-stingels voor dit kook word. Die stingels sal gelyk met die blommetjies gaar word.
Brood:
Braaibrood op die rooster is geneig om op te krul en die vulsel val dan uit. Bind net oorkruis vas met ‘n stukkie gare en die brood sal sy vulsel hou. Die gare sal nie brand nie.
’n Fyn sproei water aan die binnekant van jou oond tydens die eerste paar minute wat jou brood bak, sal die brood ’n dunner kors gee.
Wanneer jy ‘n brood bak en ‘n lekker bros kors bo-op verlang, smeer die brood halfpad deur die bakproses met soutwater.
Jy kan brood in ‘n leë skoendoos in jou mikrogolfoond bak.
Hou ‘n brood langer vars deur ‘n stuk seldery saam met die brood in ‘n papiersak te bêre.
Doop ou brood in water en bak dit dan weer in die oond. Dit sal vars smaak.
Plaas ‘n pakkie sout in die broodblik om jou brood vars te hou.
‘n Halwe aartappel in die blik hou brood vars.
Plaas ‘n koppie water in die mikrogolfoond wanneer jy gevriesde brood ontdooi. Die vog sal verhoed dat dit uitdroog.
Broodbord:
Indien ‘n hout broodbord kromgetrek is, plaas dit op ‘n plat oppervlakte met ‘n klam doek bo-op vir ten minste 24 uur.
Broodkrummels:
Wanneer ‘n gereg broodkrummels benodig en jy dit nie het nie, gebruik graanvlokkies. Voeg ‘n handvol in ‘n plastieksakkie en druk fyn voordat jy dit by die res van die bestanddele voeg.
Brosbrood:
Brosbrood bak meer eweredig wanneer dit oraloor met ‘n vurk geprik is.
Bruinsuiker:
Plaas ‘n sny brood by bruinsuiker wat hard geword in die houer oornag, die suiker sal weer sag word.
Bruismeel:
Hou bruismeel in ‘n lugdigte houer om die rysmiddel in die meel vars te hou.
Sif bruismeel altyd voor gebruik om lug in te werk.
‘n Plaasvervanger vir 250 ml bruismeel is 250 ml koekmeel plus 5 ml bakpoeier (binneland) of 7 ml indien jy op seevlak is.
Dadels:
Hou dadels in ‘n lugdigte houer in die yskas. Dit sal vir tot 8 maande behoue bly.
Gebruik dadels in plaas van suiker in ‘n resep.
Deeg:
Stukkies deeg wat aan die oppervlak kleef moet altyd afgeskraap word, anders maak dit die uitgerolde deeg klonterig.
Wanneer jy pasteideeg maak, plaas die koekroller vooraf vir ‘n paar uur in die yskas, dit vergemaklik die uitrol van die deeg aansienlik.
Plaas ‘n stukkie plastiek oor deeg wat moet rys. Dit voorkom dat ‘n harde lagie vorm.
Droë kos:
Week bone, stampmielies en ander soortgelyke droë kos oornag. Dit sal tyd, geld en ure se kookwerk spaar.
Droëvrugte:
Vyetakkies by droëvrugte hou die miet weg.
Druiwe:
Om druiwe te skil, doop dit vir 2 minute in kookwater en dan in koue water.
Eier:
Wanneer jy eiers bak, sprinkel ‘n bietjie sout of meel oor die olie voor jy die eier in die pan breek. Die eier sal dan nie aan die bodem van die pan vassit nie.
Om te keer dat eiers bars wanneer jy dit kook, sit ‘n speld of teelepel in die kastrol.
Om eiers langer vars te hou, meng 400 g ongebluste kalk met 6 liter water en plaas die eiers daarin.
Plaas gekookte eiergeel in ’n zip-lock sakkie, seël die sakkie en druk die eiergeel fyn. Voeg ander bestanddele by en meng goed. Sny die punt van die sakkie stukkend. Druk die inhoud by die gaaitjie uit. Gooi die sakkie weg.
Geklitste eiers met ’n knippie sout kan vir 3 maande gevries word.
Eiers bly langer vars as dit by ’n temperatuur van 5°C en by ’n voggehalte van 70% tot 80% bewaar word. ’n Lae temperatuur verhoed ook dat organismes in die eier groei.
Dop gekookte eiers dadelik af om te keer dat ‘n swart ring om die eiergeel vorm.
Wanneer jy koek bak en jy het nie eiers nie, gebruik asyn. 1 teelepel asyn is die ekwivalent van 1 eier.
Wanneer jy eiers oopbreek en die eierwit en eiergeel loop dadelik, dan is die eiers nie baie vars nie.
Wanneer jy die eier oopbreek om dit gaar te maak, breek dit altyd eers in ‘n piering, anders kan jy dalk die ander eiers in die pan bederf as daardie een vrot is.
Wanneer jy ‘n gekookte eier se dop oopgesny het en dis nog te rou na jou sin, plaas die afgesnyde deel terug en bedek die hele eier met kleefplastiek. Plaas dit terug in die kookwater en kook dit verder.
Strooi sout op ‘n eier wat op die vloer val en breek. Wag 5 minute en maak dan maklik skoon.
Indien jy nie genoeg eiers het vir ‘n resep nie kan jy 1 uit 3 eiers met 15 ml mielieblom vervang.
Moenie eiers gebruik wat ouer as 21 dae is nie. Dit is nie meer vars nie.
Bêre eiers met die gepunte deel na onder in die yskas. Dit bly langer vars so.
Plaas ‘n eier in water om te bepaal of dit vars is. Indien dit dryf is dit nie meer vars nie.
Klits eierwitte net voor gebruik, want hulle hou nie lank hulle volume nie.
Om eiergeel ‘n paar dae lank vars te hou, giet kouewater of olie bo-oor, bedek en bêre in die yskas.
Sny hardgekookte eiers deur met ‘n mes wat in water gedoop is en die eiergele sal nie breek nie.
Eierwitte kan 3 weke lank vars gehou word in ‘n fles met ‘n deksel in die yskas.
Voeg ‘n knippie sout by eierwit wanneer jy dit klop, die eierwit sal gouer styf word.
Voeg bietjie asyn by die water wanneer jy eiers bak. Dit keer dat die eiers bars.
‘n Lepel asyn in die water wanneer jy ´n eier posjeer keer dat die wit versprei.
Week papierhanddoek in 2 eetlepels asyn. Vee die mengbak of draadklitser uit met die geweekte handdoekpapier, droog af en klits dan jou eierwitte. Dit sal ekstra volume hê.
Eiervrug:
Plaas eiervrugskywe in ‘n vergiettes en besprinkel met sout. Laat 30 minute staan, spoel af en druk droog met handdoekpapier. Die metode voorkom dat die eiervrug tydens die gaarmaakproses water trek, dit verwyder die bitter smaak en voorkom ook dat dit pap word of te veel olie absorbeer wanneer dit gebraai word.
Fles:
Wanneer jy warm vloeistof in ‘n fles giet, plaas ‘n mes in die fles om te voorkom dat dit bars.
Fudge:
Wanneer jy fudge of toffie lekkers maak, giet die warm mengsel in plastiek ysbakkies wat jy vooraf met margarien gesmeer het.
Gas:
Gas is vinniger en nadat ek dit nou by my ingesit het, maak ek makliker kos (en geniet ek dit meer!). Een probleem wat ek het, is dat my kos nie lekker kan prut nie. Wat doen ek om vleis langer en dus sagter te kook in bredies? – Frikkie Wallis.
Die kleiner gasplate is normaalweg stadiger. Die verhouding tussen plaat en pot is ook belangrik. Groot pot en klein plaatjie prut lekker saam. – Bianca
Glase:
Wanneer glase inmekaar vassit, plaas die onderste glas in ‘n bakkie met warm water en giet koue water in boonste glas.
Gousblomme:
Die blomblare van gousblomme is ‘n goedkoop plaasvervanger vir safraan in geregte.
Grasuie:
Grasuie moet normaalweg teen die einde van die kookproses gebruik word, anders ontwikkel dit ‘n bitter smaak.
Groenbone:
Wanneer jy groenbone kook, haal die deksel vir die eerste paar minute af wanneer dit begin kook, om die kleur te behou.
Groente:
Om groente langer vars te hou, draai dit toe in waspapier voordat dit in die yskas gebêre word.
Om groente gouer te laat sag kook, voeg ‘n teelepel suiker by terwyl dit kook.
Moenie groente te lank kook in koper- of gietysterpotte nie, die metaal vernietig vitamien C.
Om groente langer te bewaar in die koelkas, plaas dit saam met ‘n wortel of twee in ‘n lugdigte houer. Wortels absorbeer alle vog van die ander groentes m.a.w. dit word nie sweeterig nie. – Marie de Klerk
Heuning:
Heuning is die enigste kos wat nie verrot nie.
Heuning wat gekristalliseer het, kan verhit word om kristalle te smelt, moenie in die yskas bêre nie.
Wanneer heuning versuiker het, verwyder die deksel en plaas dit 30 sekondes op hoog in die mikrogolf. Roer tot die sandsuiker opgelos is. Let asseblief daarop dat jy dit nie met plastiekhouers kan doen nie.
Hoender:
Om hoendervleis sag en sappig te hou, voeg ‘n koppie asyn oor die hoender voordat dit gaargemaak word.
Gebruik ‘n kooktang in plaas van ‘n vurk om hoender om te draai. Dit verhoed dat die vel geprik word en die sous verlore gaan.
Jy kan hoenderstukkies in sterk soutwater wat koud is laat marineer vir 30 minute voor jy dit braai. Die resultaat is lekker sappige hoender. – Christine van Staden
Jellie:
Verwyder jellie maklik uit die vorm, deur dit vir ‘n paar sekondes in kookwater te hou.
Wanneer jy weer jellie maak, gebruik Gemmerlin (Ginger Ale) in plaas van water. Dit gee die jellie ‘n ekstra vonkel-smaak.
Giet aangemaakte jellie in ‘n ysblokkiepan. Sodra dit ferm is, dien dit met vla op.
Voeg ‘n klein bietjie koeksoda of suurlemoensap by die jellie om dit vinniger te laat stol.
Jogurt:
Gebruik karringmelk of suurroom as plaasvervanger vir jogurt.
Kaas:
Vul ‘n leë speserybottel met meel en gebruik dit om oor kaas te sprinkel op pizza of ‘n pastagereg. Dit voorkom dat die kaas drade trek.
Rasper kaas wat hard geword het, met die fynste deel van die rasper en gebruik dit in plaas van parmesaan.
Sorg dat daar altyd gerasperde kaas in die yskas is, dit bespaar tyd wanneer ‘n gereg berei word.
Bêre kaas in foelie. Dit bly langer vars en muf nie.
Kakao:
‘n Knippie kaneel verleen ´n pikante smaak aan kakao.
Kerfplank:
Raak ontslae van sterk en onaangename kosreuke aan ‘n kerfplank, deur dit met ‘n halwe pomelo of suurlemoen te vryf en dan af te spoel.
Kerrie:
‘n Kerrie kan tot drie dae in die yskas gehou word en sal waarskynlik verbeter oor die tyd.
Voeg ’n paar druppels vanilla-ekstrak by kerriegeregte. Dit neutraliseer die hitte van die rissie effe, maar bring die geur meer uit.
Wanneer jou mond brand as gevolg van warm kosse soos kerrie, eet brood of seldery of drink melk, moet glad nie water drink nie.
Kersie:
Hoe donkerder die kersies, hoe soeter is dit.
Kersies smaak op hul beste as dit by kamertemperatuur geëet word.
Ketel:
Vul ‘n nuwe ketel met helfte witasyn en helfte water. Kook en laat oornag staan. Spoel die volgende dag uit met skoon water. Dit voorkom verkalking.
Klapper:
Bêre klapper in ‘n lugdigte houer en vries dit. Dit kan tot 6 maande lank hou.
Kleefplastiek:
Hou jou kleefplastiek in die yskas. Dit hanteer dan makliker.
Wanneer kleefplastiek opfrommel, hou dit ‘n minuut lank oor warm water. Die stoom sal dit ontplooi.
Knoffel:
Vir ‘n matige knoffelsmaak in ‘n gereg, voeg die knoffel vroeg in die kookproses by. Vir ‘n sterk knoffelsmaak, voeg dit teen die einde by.
Koek:
Indien jy ‘n druppel of twee kookolie by die gesmelte sjokolade voeg wat jy oor koek of eclairs gaan smeer, sal dit ‘n blink, professionele voorkoms hê.
Twee eetlepels stroop in ‘n sjokoladekoekmengsel sal sorg dat die koek klam en smaaklik bly.
5 ml gliserien gee enige koekmengsel ‘n ligter tekstuur.
Voeg bakpoeier heel laaste by ‘n koekbeslag, die koek sal dan baie lig uitrys.
Koekies:
Plaas ’n stuk skoon waspapier bo-op droë koekies in ’n digte koekblik. Dit hou die koekies vars.
Wanneer jy droë koekies bêre, strooi ‘n laag suiker onder in die houer om dit langer vars te hou.
Onversierde koekies wat begin sag word kan weer bros gemaak word deur dit vir 5 minute by 180ºC te verhit.
Gebruik die meel spaarsamig wanneer jy koekiedeeg op ‘n meelbestrooide oppervlak uitrol. Te veel meel kan die koekies hard maak.
Vir ekstra bros koekies, gebruik bruinbroodmeel in plaas van koekmeel.
Druk die vurk waarmee jy koekiedeeg platdruk vooraf in meel. Dit voorkom dat die deeg aan die vurk vassit.
Wanneer jy koekies se deeg verseël, bestryk die randte eers met water of melk.
Indien jy nie ‘n koekiedrukker het nie, kan jy koekies met ‘n glas uitdruk.
Botter, hoewel duurder as margarien, is altyd beter vir geurige kleinkoekies.
Maak kleinkoekiedeeg ‘n dag voor die tyd aan, bedek met kleefplastiek en bêre in die yskas. So verkry die koekies ‘n beter tekstuur.
Wanneer jy kleinkoekies bak, trek eenvoudig die oondrak oor met tinfoelie, strooi meel daaroor en plaas dan die rou koekies direk bo-op die foelie. Geen bakpanne om agterna skoon te maak nie.
Verhit koekies met ‘n koppie water in ‘n mikrogolfoond. Hou hulle klam en verhit dit vinniger.
Koekpanne:
Laat altyd ’n spasie van minimum 25 mm tussen koekpanne in die oond vir egalige hitteverspreiding.
Wanneer jy op meer as een oondvlak gelyk bak, ruil die koekpanne halfpad deur die baktyd.
Voer jou koekiepanne uit met swaardiens aluminiumfoelie voor jy koekies bak. Dit voorkom dat die koekies merke laat.
Koeksisters:
Koeksisters vries goed in lugdigte houers. Haal uit die vries 30 minute voor jy dit wil bedien.
Koekversiersel:
Om te keer dat jou koekversiersel versuiker, voeg ‘n paar druppels asyn by die versiersel wanneer jy dit aanmaak.
Koffie:
Bêre koffie in die yskas om dit vars te hou.
Koffiebekers:
Week koffiebekers oornag in ‘n bleikmiddel om van vlekke ontslae te raak.
Koffiefles:
Voeg ‘n paar eetlepels koeksoda in die koffiefles saam met warmwater en laat staan vir ‘n tydjie. Spoel goed dit uit. Jou fles sal silwerskoon wees.
Koffiemasjien:
Maak jou koffiemasjien skoon deur witasyn deur die masjen te laat sirkuleer. Daarna moet die proses herhaal word met skoon water.
Koljander:
Voeg koljander by geregte wat brand om ‘n balans aan die smaak te verskaf. As koljander nie beskikbaar is nie, gebruik ‘n mengsel van pietersielie, sprietuie en gerasperde komkommer.
Kolwyntjies:
Bak kolwyntjies vir kinderpartytjies in stomp roomyshorinkies.
Kondensmelk:
Kondensmelk kan soos room geklop word, indien dit eers vir 10 minute (in die blik) in ‘n pot kookwater warm gemaak word.
Konfyt:
Voeg ‘n bietjie suurlemoensap by konfyt, om sandsuiker te voorkom. – Chantelle Geldenhuys
Konfyttertjies:
Het iemand ´n wenk of voorstel sodat appelkooskonfyt nie sal uitloop by konfyttertjies nie? – Mimi
Doop die konfyt in meel voor jy dit in die degie toevou. Dan sal dit nie uitloop nie.
1 eierwit en 1 teelepel suiker, klits goed en smeer aan die randt van die deeg. – Petro van der Westhuizen
Kookoliebottel:
Sny die onderste deel van ‘n wynbottelhouer af en bêre jou kookoliebottel daarin. Die kartonhouer suig olie wat drup op.
Kool:
Kook ‘n paar lourierblare saam met kool indien jy nie van die reuk in jou kombuis hou nie, dan ruik jou kombuis baie lekkerder. ‘n Sny wit brood saam met die kool vat ook die reuk weg.
Plaas bietjie botter in water waarin kool gekook word, dit sal verhoed dat kool oorkook.
Koper:
Sprinkel koeksoda in aangebrande koperpotte en voeg genoeg water by om die oppervlak te bedek. Laat staan vir drie ure en maak dan skoon.
Kosblik:
Soms ruik ‘n kosblik muf na baie maande se gebruik. Week ‘n sny brood in asyn en los dit oornag in die kosblik. Was die kosblik die volgende dag.
Kouevleis:
Bêre kouevleis in foelie om te verhoed dat dit slymerig word soos in plastiek.
Kremetart:
Plaasvervangers vir 5 ml kremetart is 15 ml suurlemoensap of 15 ml asyn of 3 ml wynsteensuur.
Kristalglas:
Om kristalglase weer daai ekstra glans te gee, voeg bietjie ammoniak by die waswater. Spoel dit af met asynwater.
Kweper:
Om te verhoed dat ‘n gesnyde kweper verbruin, sprinkel suurlemoensap bo-oor. – Anita Veldman
Krummels:
Om fyn krummels vir gebak te maak, plaas die koekies in ‘n plastieksak en rol dit fyn met ‘n koekroller.
Loerierblare:
Indien jy nie loerierblare het vir ‘n resep nie kan jy vars suurlemoenblare in die plek daarvan gebruik.
Maalvleis:
Plaas ‘n teelepel by maalvleis wanneer jy dit braai. Dit help om die vet en vleis te skei.
Maaskaas:
Die gewone maaskaas in supermarkte hou langer indien jy dit onderstebo bêre.
Masala:
Gebruik ‘n mengsel van komyn en koljander, indien jy nie masala het nie.
Mayonnaise:
Indien mayonnaise te skerp smaak in ‘n slaai kan jy dit verbeter deur eers joghurt met die slaairoom te meng.
Indien jy sukkel om die laaste mayonnaise uit die bottel te kry. Voeg ‘n paar druppels van jou gunsteling asyn by. Draai die deksel op en skud.
Meel:
Bêre meel in ‘n lugdigte houer om dit vars te hou.
Plaas ‘n lourierblaar in meel om miet uit te hou.
Bêre enige meel, koekmeel, mieliemeel, ens., in die vrieskas. Dit sal langer vars bly.
Melkkos:
Melkkos smaak lekkerder indien jy 5 ml vlapoeier daarby inroer.
Messe:
Messe van vlekvrye staal bly langer skerp.
Messegoed:
Om jou messegoed weer te laat skitter moet jy dit 24 uur lank week in ‘n mengsel van 1 deel bleikmiddel en 2 dele water.
Mielie:
Wanneer jy vars mielies koop moet die blare nog klam voorkom. As dit oud en vergeel lyk, is die mielie oud.
Mielieblom:
Koekmeel kan as ‘n plaasvervanger vir mielieblom gebruik word, maar jy moet dan dubbeld die hoeveelheid gebruik.
Mieliemeel:
Week mieliemeel oornag in water en jy hoef dit net vir 15 minute te kook in die oggend.
Miere:
Indien jy ‘n probleem het met miere in jou kombuis, sal dit help indien jy al die werksoppervlaktes en kaste uitwas met witasyn.
Miet:
Om miet uit jou koskaste te kry, moet jy al die kos weggooi wat moontlik miet in het. Blikkies kan gehou word, maar die etikette moet afgetrek en weggegooi word. Verwyder die rake, indien moontlik en stofsuig alles. Blaas met ‘n baie warm haardroër deur die kas om te sorg dat elke hoekie en gleufie kurkdroog is.
Mikrogolfoond:
Meng 60 ml asyn met 250 ml water en kook dit in die mikrogolfoond. Dit sal aangepakte spatsels los maak en dit makliker maak om die mikrogolfoond skoon te maak.
Mossels:
Wanneer jy mossels koop, moet dit ongeveer 450 g per persoon wees. Dit maak voorsiening vir die wat jy gaan weggooi.
Mossels wat oop is, gebreekte skulpe het of na bo dryf gedurende die gaarmaakproses, is nie meer reg nie.
Lewendige mossels moet geëet word op dieselfde dag as wat jy dit gekoop het. Hou hulle in die yskas onder ‘n klam afdroogdoek voor jy dit gaarmaak.
Mossels kan gevries word in plastieksakkies.
Muffins:
Wanneer jy muffins bak en jy vul nie al die muffinholtes nie, giet water in die leë holtes, sodat die hitte eweredig versprei.
Verhit muffins langs ‘n koppie water in ‘n mikrogolfoond. Dit verhit vinniger en sal klam wees.
Muggies:
Meng 500 mℓ water met 30 mℓ suiker, 30 mℓ appelasyn en ‘n paar druppels opwasmiddel. Dit sal muggies en vrugtevlieë aantrek. Verwyder ook enige verrotte organiese materiaal uit jou kombuis.
Muskiete:
Brand takkies basiliekruid op ‘n braaivleisvuur om muskiete te verdryf.
Olywe:
Die vloeistof waarin olywe ingelê is, gee ‘n heerlike geur aan vleisgeregte.
Omelet:
Voeg ‘n skootjie sjerrie by die eiermengsel vir ‘n omelet vir ‘n heerlike smaak sensasie.
Oond:
Indien jou oond nie te vuil is nie, plaas ‘n bakkie met huishoudelike ammoniak in die warm oond. Laat afkoel en dit sal makliker skoonmaak met wasmiddel.
Indien jy op jou oond mors, sprinkel dadelik met sout. Wanneer die oond afgekoel het kan jy dit afvee met ‘n klam spons.
Indien jy op jou oond mors sprinkel dadelik die wasmiddel wat jy gebruik vir jou skottelgoedwasmasjien oor en bedek met klam handdoekpapier. Laat staan ‘n paar uur en vee af met ‘n klam spons.
Pampoen:
Om ‘n gesnyde pampoen vars te hou, verwyder die pitte en bedek die binnekant met ‘n lagie koeksoda.
Wanneer jy pampoenkoekies bak, doop eers die skeplepel in die warm olie voordat jy die deeg uitskep. Die deeg sal dan nie aan die lepel vasklou nie.
Om pampoen makliker te skil, maak ‘n stuk pampoen warm vir 2 minute op hoog in die mikrogolfoond. Skil dan.
Pan:
Wanneer koekpanne muf en roes, skrop dit skoon met asyn en laat droog word in die son.
Voordat ‘n nuwe pan gebruik word, kook ‘n bietjie skoon asyn daarin vir ‘n paar minute. Sal ook voorkom dat kos vasbrand.
Pannekoek:
Voeg ‘n bietjie asyn of witwyn by pannekoekdeeg om te verhoed dat dit taai word.
Warm melk oor pannekoeke sal verhoed dat hulle taai raak.
Verwyder die bruin aanpaksel in die pan met ´n droë stukkie staalwol, terwyl die pan nog warm is.
Verhit pannekoek met ‘n koppie water in ‘n mikrogolfoond. Dit verhit vinniger en die pannekoek sal klam wees.
Pap:
Wanneer ek pap maak op die stoof en my pap is so amper gaar, voeg 2 rou eiers by die pap wat nog kook op die stoof, roer dit deeglik deur, los die botter of die bakpoeier om dit fluffy te maak. Die rou eiers maak ’n groot verskil en gee ’n lekker smaak aan die pap. – Patricia
Parmesaan:
Waar moontlik gebruik vars gerasperde Parmesaankaas wanneer dit in resepte benodig word, nie die wat jy in pakkies koop nie. Dit gee die beste geur.
Die ideale manier om parmesaan te stoor is toegedraai in ‘n afdroogdoek in die groentelaai van die yskas.
Pasta:
Kook pasta in ‘n draadsif of vergiettes in die pot. Sodra dit gaar is, lig jy dit net op terwyl die water in die pot agterbly.
Wanneer pastasous te waterig en dun lyk, voeg ‘n rou eier by en roer goed deur net voordat jy dit van die hitte verwyder.
Patats:
Voeg ‘n paar lemoenskyfies met skil by gestoofde patats vir ‘n heerlike geur.
Stowepatats kry ‘n mooi kleur wanneer ‘n mespunt koeksoda bygevoeg word terwyl dit kook.
Pasta:
Gebruik mayonnaise om oor pasteie te smeer. Dit bevat ook eier en so spaar jy ‘n eier.
Peper:
Peper is vroeë jare gebruik om kos te bewaar, voor ys geredelik beskikbaar was.
Pere:
Indien jy wil hê jou pere moet gouer ryp raak, sit hulle in ‘n papiersak saam met ‘n appel. Maak ‘n gaatjie aan die bokant en laat staan dit op ‘n warm plek.
Piekels:
Gebruik altyd keramiek of glas wanneer piekels geweek word in sout.
Piesang:
Om te voorkom dat piesangs verkleur in ‘n tert of gereg, giet kokende water oor ongeskilde piesangs, die skil sal verkleur. Wag totdat grootste deel van die skil verkleur, giet die water af, skil die piesangs af en gebruik soos benodig.
Bêre groen piesangs in ‘n bruin papiersak in ‘n donker, warm plek om dit ryp te maak.
Breek piesangs los vanmekaar. Dit sal dan stadiger ryp word, as wat hulle vas aan mekaar is.
Pizza:
Gebruik ‘n kombuisskêr eerder as ‘n mes om pizza mee te sny, dit is baie makliker.
Om oorskiet pizza op te warm, sit dit bo-op die stoof in ‘n nie-kleefbare pan en maak warm op lae hitte.
Plastiekhouers:
Het jy plastiekhouers met reuke wat nie wil uit nie. Vul die houers met kookwater en 250 mℓ asyn en laat oornag staan.
Pot:
Om jou potte en panne blink en skoon te hou, gebruik witasyn en koekie sunlightseep en skuur met staalwol.
Was jou potjiekospot met warm seepwater, droog af en spuit met kleefwerende kossproei. Dit voorkom dat dit roes.
Radyse:
Skud radyse in ‘n fles vol water om hulle deeglik te was.
Ravioli:
Moet nooit gaar ravioli in ‘n vergiettes skep nie. Skep dit uit jou pastapot met ‘n gaaitjieslepel.
Reuke:
Vir onaangename reuke in bv. yskas, kaste of enige plek. Plaas skoon katsand in foeliebakkies en laat staan, dit absorber die reuke. – Anita Marais
Plaas ‘n piering met vanilla geursel in die kombuis om van die reuk van gebraaide voedsel ontslae te raak.
Verwyder reuke in die kombuis deur asyn en water in ‘n kastrol op die stoof te kook.
Rissie:
Voeg ’n paar druppels vanilla ekstrak by geregte met rissie. Dit neutraliseer die hitte van die rissie effe, maar bring die geur meer na vore.
Roereier:
Vir lekkerder roereiers of omelette, klits suurroom, roomkaas of room by.
Voeg ‘n bietjie mosterd by roereiers, vir meer kleur en geur.
Vermeerder roereiers deur vir elke eier ‘n teelepel mielieblom by te voeg.
Rook:
Indien jy vleis aanbrand en die kombuis ruik na rook, verhit ‘n baie asyn. Giet dit in ‘n paar bakke en sit dit oral in die kombuis. Laat staan dit vir ‘n dag of twee. Dan brand jy vanilla kerse. – Anneke
Room:
Twee teelepels heuning in vars room sal help dat die room lekker dik klop.
Drup lepels geklopte room op waspapier en bevries dit vir daardie koppie koffie later.
Om room vinniger styf te klits, voeg bietjie kremetart by.
Voeg ‘n bietjie opgeloste gelatien by indien jy sukkel om room styf te klop.
‘n Plaasvervanger vir 250 ml room is 185 ml melk plus 65 ml botter OF 170 ml karringmelk en 80 ml olie.
Roomys:
Sit ‘n klein malvalekker onder in ´n roomyskelkie. Dit sal verhoed dat die kelkie lek.
Gevriesde roomys sal makliker skep, indien jy dit vir ‘n halwe minuut in die mikrogolfoond verhit.
Moenie roomys direk uit die vrieskas probeer uitskep nie. Laat dit minstens 10 – 20 minute in die yskas.
Rys:
Voeg ‘n teelepel droë klapper en ‘n pakkie sampioensop by rys vir ‘n heerlike geur.
Voeg ‘n teelepel asyn by wanneer jy rys kook. Dit maak die rys makliker hanteerbaar.
Sampioene:
Bêre sampioene in ‘n bruin papiersakkie in die yskas. Dit hou langer as in plastiek.
Skaal:
Bedek die bak van ‘n kombuisskaal met kleefplastiek voordat jy die bestanddele daarop weeg. Die bak bly skoon en jy hoef dit nie te was nie.
Skons:
Tamatiesap in plaas van melk verleen ‘n soutsmaak aan skons. Dit is heerlik met botter en kaas daarop.
Skottelgoedwasser:
Om jou skottelgoedwasser skoon te maak, gebruik ‘n klam lap wat in koeksoda gedoop is. Indien daar nare reuke in jou skottelgoedwasser is, sprinkel bietjie koeksoda onder in die masjien en laat dit oornag staan.
Vir skoon en blink glase, giet 500 mℓ witasyn onder in die skottelgoedwasser, plaas gewone wasmiddel in en laat die masjien loop.
Slaai:
Slaaikoppe bly langer vars in die yskas in papiersakke, nie plastieksakke nie.
Maak verlepte slaaiblare weer bros deur dit in ´n bak yskaswater te plaas, nie yswater nie.
Slaaisous:
Gebruik die soetsuur vloeistof van piekelagurkies om ‘n lekker slaaisous te maak.
Smoor:
Smoor is die beste gaarmaakmetode vir goedkoop vleissnitte en taai wild.
Wanneer vleis gesmoorde word, moet dit eers gemarineer word voor dit gaargemaak word.
Snoek:
Indien snoek te sout is, week dit oornag in koue water en kook die volgende dag vir ‘n rukkie in vars water. Moenie weer sout byvoeg nie.
Snybord:
Ontsmet ‘n snybord, deur dit met ‘n asynlap af te vee.
Sop:
Om die vet van sop te skei, giet die sop deur ‘n doek wat goed natgemaak is in koue water.
Sosaties:
Smeer eers ‘n bietjie olie aan die stokkie voor die bestanddele geryg word. Dit sal baie makliker deur die bestandele steek.
Sous:
Gebruik kits kapokaartappels om sous of sop te verdik.
Voeg ‘n bietjie suurlemoensap by ‘n sous wat te soet is.
Om sous mooi bruin te maak, kan jy een teelepel kitskoffie byvoeg. Dit verander nie die smaak nie, net die kleur.
Die geur van menige sous of sop word opgekikker met 5 mℓ asyn.
Sout:
Plaas ‘n rou aartappel in sop of bredie indien jy te veel sout ingevoeg het. Die aartappel absorbeer die ergste sout smaak.
Wanneer ‘n gereg te sout is, voeg bruinsuiker by.
Voeg ‘n paar ryskorrels in die soutpotjie om te verhoed dat die sout klonterig raak in klam weer.
Om sout wat in potjies vassit los te kry, plaas die potjie eers ‘n paar minute in die louoond.
Sout vleis voor die kookproses. Dit help om die natuurlike suikers van die vleis te karamelliseer, wat die vleis sappig en geurig maak. Gebruik growwe sout.
Soutwater neem langer om te kook, voeg dus die sout eers by wanneer die water reeds kook vir byvoorbeeld pasta.
Hou altyd ‘n houer tafelsout gereed by die stoof. Sou ‘n pan of kastrol met vet of olie vlam vat, kan jy dit smoor deur sout daaroor te strooi.
Soutvleis:
Plaas ‘n stukkie suurlemoen in die water waarin soutvleis kook. Dit laat die vleis gouer sag word.
Spek:
‘n Paar druppels vars suurlemoensap by ontbytspek gee ‘n heerlike geur.
Spinasie:
Spinasie was gouer skoon in soutwater.
Kook spinasie onbedek om die kleur mooi groen te hou.
Springmielies:
Mikrogolf springmielies in ‘n bruinpapiersak. Dit is baie goedkoper en gesonder as die gekoopte springmielies.
Stoof:
Maak jou stoof skoon met ‘n mengsel van sout en asyn.
Stroop:
Indien stroop versuiker het, verwyder die deksel en plaas dit 30 sekondes op hoog in die mikrogolf. Roer dan tot die sandsuiker opgelos is. Let asseblief daarop dat jy dit nie met plastiekhouers kan doen nie.
Suiker:
Suiker en botter sal gouer meng as ‘n bietjie suurlemoensap bygevoeg word.
Bruinsuiker wat hard geword het, kan weer sag gemaak word deur dit ‘n paar dae in die yskas te plaas.
Gebruik 200 ml heuning of gouestroop as plaasvervanger vir 250 ml suiker.
Suurlemoen:
Laat lê ‘n suurlemoen in warm water voor jy dit uitdruk. Jy sal meer sap kry.
‘n Plaasvervanger vir 5 ml suurlemoensap is 3 ml asyn.
Suurroom:
Om vinnig suurroom te maak, neem vars room en voeg ‘n bietjie karringmelk of suurlemoensap by. Dit proe die beste indien dit oornag gestaan het.
‘n Plaasvervanger vir 250 ml suurroom is 250 ml melk plus 20 ml suurlemoensap of 15 ml asyn.
Tamarinde:
Indien jy nie tamarinde kan kry nie, gebruik ‘n bietjie karringmelk gemeng met asyn.
Tamaties:
Maak groen tamaties ryp, deur dit in ‘n nat afdroogdoek toe te draai en in ‘n papiersak te plaas.
Tamatieslaai:
‘n Bietjie suiker by tamatieslaai verbeter die smaak.
Tong:
Die vel van tong sal maklik aftrek, indien daar asyn by die water gegooi word wanneer dit gekook word.
Tupperware:
Smeer taai of gevlekte Tupperware met ‘n pasta van koeksoda en water en laat dit oornag staan.
Voorkom vlekke en klewerigheid deur die houers dadelik af te spoel nadat jy dit gewas het.
Turksvy:
Turksvypitte verhard indien jy dit verhit. Druk die turksvy deur ’n sif om die pitte te verwyder, voor jy dit gebruik in ’n gereg waar hitte betrokke is.
Verwyder turksvydorings deur die vrug versigtig te vryf met ’n dik growwe lap.
Die blare van die turksvy kan as slaai gebruik word.
Uie:
Die reuk van ‘n ui wat aan hande kleef nadat daarmee gewerk is, kan geneutraliseer word deur jou hande met bietjie koffiepoeier te vryf. Was jou hande daarna gewoon en siedaar die uiereuk is verbloem. – Yolandi Hall
Spoel geskilde uie eers onder water af voordat jy dit opsny, dit sal die sappe wat jou oë laat brand afspoel. Jy kan ook jou neus toehou met een of ander knyper, sodat jou neus nie die walms kan opvang nie.
As jy klaar uie gesny het, spoel jou hande deeglik af, want anders kan jou oë nog na die tyd brand.
Plaas twee vuurhoutjies met die koppe na buite in jou mond terwyl jy uie skil. Die swael absorbeer die uie se brand.
Om te voorkom dat uie wat bewaar word uitloop, kan die worteltjies in kookwater gebrand word, voordat dit opgehang word.
Vryf jou hande met droë mosterd om van uiereuk ontslae te raak.
Voeg ‘n bietjie asyn en suiker by uie wat gesmoor word. Dit sal ‘n lieflike ligbruin kleur en ‘n aangename geur aan die uie verleen.
Vanilla:
Vanilla is ‘n natuurlike versoeter en beklemtoon die geure van groente.
Sny ‘n vanillapeul deur en plaas dit in ‘n bottel olyfolie. Gebruik die olie om vleis, pluimvee en vis mee te geur.
Vark:
Sprinkel ‘n bietjie neutmuskaat oor varktjops voordat dit gaargemaak word. Dit verleen ‘n baie lekker smaak, en neem die wilde smaak van die varkvleis uit.
Fyn gemmer verleen ‘n besondere geur aan potgebraaide varkvleis.
Hou varkvleis in die plastiekverpakking tot jy dit benodig. Indien die verpakking gebreek is, plaas die vleis op ‘n bord en vou dit toe met waspapier of foelie. Dit sal 3 tot 5 dae in die yskas hou.
Vasgebrande kos:
Kos wat vasgebrand het in ‘n kastrol of pan kan losgemaak word deur 2 eetlepels koeksoda daarin te strooi en dit vol te maak met warm water. Laat staan ‘n tydjie.
Versiersuiker:
Wanneer jy ‘n koek se versiersuiker te slap aangemaak het en jou versiersuiker is op, voeg bakpoeier of mielieblom by om dit stywer te maak.
Vet:
Strooi bietjie sout in die braaipan om te verhoed dat die vet spat.
Indien die sous van ‘n dis te vetterig is, plaas ‘n ysblokkie daarin vir ‘n minuut of twee. Die vet sal om die ys vasplak en kan dan verwyder word.
Vis:
Om ‘n deegbeslag beter aan vis te laat kleef, voeg ‘n bietjie asyn by die beslag.
Om die velletjie van vis te verwyder, plaas dit met die vel na bo onder ‘n warm rooster. Die vel sal hard word en maklik aftrek.
Raad vir vis wat maklik vlok en te fyn kook – Vryf die filette met sout en laat vir ten minste 10 minute lê. Spoel die vis af met yskoue water. Gebruik nou soos gewoonlik. Die sout maak die vis effens gaar en daarom behou dit beter vorm tydens die kookproses.
Week vis in ‘n mengsel van witasyn en water voor gaarmaak. Die vis se vorm bly dan beter behoue gedurende die gaarmaakproses. Indien jy vis posjeer, kan jy 15 ml witasyn in die water voeg om te verhoed dat die vis nie so gou breek nie.
Viskerrie:
Jy kan kerrie maak van enige vis, maar ‘n sterk kerrie is veral geskik vir vis met donker vleis, soos tuna of ansjovis.
Visreuk:
Verwyder ‘n visreuk van jou hande deur dit met suurlemoen en sout te was.
Verwyder visreuk van eetgerei deur dit in asynwater af te spoel.
Vla:
‘n Skeppie appelkooskonfyt by vla ingeroer, sal dit heerlik opkikker en die smaak aangenaam verander.
Gebruik karamelbruinsuiker wanneer jy weer vla aanmaak vir ‘n heerlike karamelagtige smaak.
Voeg ‘n stukkie botter by vla, dit verhoed dat ´n velletjie vorm.
Vleis:
‘n Bietjie asyn in die olie verhoed dat vleis wat in krummels gerol is, gou vasbrand in die pan.
Marineer taai vleis in gelyke hoeveelhede marinade en asyn.
Smeer asyn en sout aan vleis, om te verhoed dat dit gou bederf en sal dit ook sag maak.
Voeg asyn by vleis om dit sag te maak.
Vleispasteie:
Draai vleispasteitjies in botterpapier toe voor jy dit bak. Dit hou die korsies sag.
Vleissous:
Maak ‘n vleissous vetvry deur dit vooraf te berei en in die yskas te laat afkoel. Die vetterigheid sal stol en kan dus maklik afgeskep word.
Vlekvrye staal:
Vlekvrye staal kan wel vlek. Vryf die vlek met ‘n lappie wat in brandspiritus geweek is. Spoel af met koue water.
Gebruik ‘n sagte lap en witasyn om vlekvry staal mee skoon te maak.
Vlekke:
Warm seepwater is die beste raad vir vlekke op tafellinne.
Nat sout verwyder die vlekke van koppies en pierings.
Verwyder vrugtevlekke van jou hande deur dit met asyn te was.
Voedselverwerker:
Om jou voedselverwerker skoon te maak, plaas warmwater met ‘n paar druppels asyn in die verwerker en sit dit aan vir ‘n paar sekondes tot die masjien skooon is.
Volstruis eier:
Dit neem omtrent 40 minute om ’n volstruiseier hard te kook.
Vries:
Vries oorskiet kos, dubbele porsies en sop in ‘n vierkantige plastiekhouer (bv. Tupperware houer). Nadat dit hard is, druk dit uit die houer en draai toe in kleefplastiek. Jy het dan nie ‘n klomp houers in die vrieskas wat spasie opmaak nie en jy kan die houers weer vir iets anders gebruik. – Alta Jooste
Vrieskas:
Om ‘n vrieskas maklik en gou skoon te maak. Smeer gliserien aan die kante nadat dit skoongemaak is en volgende keer sal die ys aanpaksels gou groot stukke afval nadat dit begin afsmelt en dan kan die groot stukke weggegooi word en jy sit nie met ‘n klomp water om op te droog nie. Moet net nie die ys by plante voeg nie, dit sal die plante brand. Laat eers in ‘n houer afsmelt tot kamertemperatuur voor jy die water op die plante giet. – Alta Jooste
Vrugte:
Kook engelkruid se blare saam met suur vrugte om die smaak te neutraliseer.
Vrugtevlieë:
Indien jy ’n probleem het met vrugtevlieë in die kombuis. Plaas ’n koeldrankdoppie vol vanilla ekstrak naby aan die vlieë.
Vullisblik:
Plaas bietjie katsand onder in die vullisblik indien dit sleg ruik. Vervang die sand wanneer dit klam is.
Hou die vullisblik higiënies deur kalk en amoniak op die bodem te strooi.
Wasbak:
‘n Wasbak van vlekvrye staal kan jy weer laat blink deur dit te was met sodawater en witasyn. – Lalie
Roesmerke op ’n wasbak kan jy behandel deur die vloeistof wat vir sigaretaanstekers gebruik word daarop te spuit. Maak dan skoon met jou opwasmiddel.
Indien daar onaangename reuke by jou wasbak is, giet ‘n koppie asyn in die drein en laat vir 30 minute staan. Spoel agterna met koue water.
Watervlek:
Indien jy hardnekkige watervlekke in ‘n beker of houer het, vul die houer met asyn, laat staan ‘n paar uur en skuur dit met ‘n skuursponsie. Asyn kan oor en oor gebruik word vir die doel.
Weense worsies:
Bêre weense worsies in foelie sodat dit nie slymerig word soos in plastiek nie.
Wors:
Doop wors in kookwater voordat jy dit bak, dan sal dit nie oopbars nie.
Wortels:
Indien jy wortels in slaai gebruik en dit is nie baie jong wortels nie, gebruik net die buitenste gedeelte. Jy sal sien die binneste pit is ligter van kleur. Dit het nie baie geur nie. Hou dit eerder vir sop en aftreksel.
Wyn:
Moenie oorskiet wyn wat oorbly weggooi nie. Vries dit in blokkies en gebruik in disse en souse.
Yskas:
Vryf die yskas se rubber een maal per maand met gliserien. Dit verhoed dat dit hard word en barste vorm.
Voeg bietjie vanilla geursel by die water waarmee jy die yskas skoonmaak. Dit help om onaangename reuke te verwyder.
‘n Oop dosie koeksoda hou onaangename reuke uit die yskas.
Om te verhoed dat swamme vorm in die yskas, kan jy dit van tyd tot tyd uitvee met wit asyn. Die res van die tyd kan jy jou yskas was met gelyke dele water en wit asyn.
Voeg 250 mℓ appelasyn in ‘n glas en plaas in die yskas om slegte reuke te verwyder. Na 2 dae is die reuke weg.
Los ‘n paar druppels vanilla-ekstrak oop in die yskas om reuke te verwyder.