KLEINMAAT TOEBROODJIESMEER
Ek weet daar is alreeds resepte vir toebroodjiesmeer maar hier is my weergawe vir ‘n baie kleiner resep. Meer kleurvol en baie lekker.
- 1 medium Engelse komkommer, pitte uitgehaal
- 1 groot wortel, geskil
- 1 medium rooi ui
- 1 dik seldery stingel, onthaar
- ½ elk groen, rooi en geel soetrissies
- 1 teelepel Dijon mosterd
- 2 ml sout
- 2 ml peper
- 1 ½ – 2 koppies Nola oorspronklike mayonnaise
Gebruik ‘n 2 liter roomysbak met deksel en rasper die komkommer en wortel op die fyn kant daarin.
Sny die ui, soetrissies en seldery in piepklein stukkies en voeg by die komkommer en meng deur.
Voeg witasyn by tot net goed bedek. Sit deksel op en laat vir 12 ure of langer in die yskas staan.
Dreineer die groente in ‘n plastiek sif en druk meeste van die water uit met agterkant van’ n lepel. (Behou die vloeistof).
Keer die groente uit op ‘n skoon kombuisvadoek en druk goed droog.
Plaas die groente terug in die roomysbak en voeg die mosterd, sout, peper en mayonnaise by, meng goed deur.
Skep in botteltjies en bêre in die yskas. Laat staan ‘n dag voor gebruik.
Nota:
Geur die groenteasyn met bietjie sout en peper en gebruik as slaaisous.
L.W. ek sit geen suiker by die toebroodjiesmeer nie.
Resep en foto: Lorett Brittnell