KITI SE MA SE BLIKKIE FUDGE
Gebrui die kondensmelk blikkie om jou afmetings mee te doen.
Smeer potkante met botter (sien *). Plaas kondensmelk in ‘n pot en skraap blik goed uit. Meet suiker af met blik en plaas in die pot. Meet melk af met blik en roer by in die pot. Moenie ‘n metaal lepel in die pot gebruik nie, maar ‘n houtlepel. Plaas stroop by en roer. Was al die kristalle af met ‘n nat lappie of kwassie sodat dit nie later sandsuiker veroorsaak nie. As dit begin kook, mag daar geen suikerkorrel sit teen die kant nie.
*(smeer jou pot kante met botter dan glip dit sommer af).
Plaas pot op lae hitte op stoof. Roer heeltyd met jou houtlepel sodat dit nie onder vasbrand nie. (ROER nie klits nie). Na sowat 40 minute sal dit bruin en dik wees. Jy sal sien hoe verander die konsistensie. Doen die koue water toets (moet sag bly as jy ‘n druppel in koue water sit, nie kliphard word nie anders het jy suiglekkers). Ek sal soms net bietjie in ‘n piering sit en kyk as ek effe roer of dit stol. As dit taai toffie is, kook nog. Dit maak ook groterige borrels, so amper skuimerig as dit reg is. Glo my jy sal weet as jy by hierdie stadium kom, veral nadat jy al 769 potte fudge in jou lewe gemaak het.
Haal nou van die stoof af. Sit jou botter en vanilla by, oppas dit borrel. Klop nou met die houtlepel (pasop vir brand) sodat dit effe meer begin stol in die pot. Dit word lekker dik. Keer dan uit in ‘n lekker dik gesmeerde pan of glasbak (met botter).
Los vir so 10 minute en sny met skerp mes, jy kan dit smeer met botter. Dit maak merkies op die fudge maar sal weer toevloei, dis ok. Na halfuur sny jy weer op die merkies. Dan los jy tot dit gestol en koel is, so paar uur.
Baklei met jou huislinge oor wie se reg die pot-uiteet is.
As jou fudge reg gemaak is, hoef dit nie yskas toe te gaan nie.
Kiti se notas:
Vervang die afgemete blikke met koppies, want een blik kondensmelk is rofweg 250 ml.
2. As jy nou klaar jou botter en vanilla in het, voeg ook ‘n plak wit sjokolade in blokkies gebreek by. Jy kan dit ook rasper as jy fluks is en wag dat die goed klaar kook. Dit maak jou fudge onge-bleddie-looflik romerig.
Jy kan ook sommer net ‘n vel bakpapier die presiese grootte van jou glasbak se bodem sny. Dit maak die uitkeer soveel makliker.
As jy sien dis toffierig, skep terug in die pot, dis waarskynlik nog nie genoeg gekook nie. Of meng met room in pot, maak warm en bêre in ‘n flesse vir netso eet op ‘n lonely aand, of oor roomys.
Net omdat jy wil.
Resep: – Kiti Citi – Kiti se Ma se bruin resepteboek