KETO VLEISPASTEIE MET SKONTIPE DEEG
Nadat ek die skon vleispasteitjies so ‘n paar dae terug hier gesien het en selfs my ma hulle gemaak het, het die lus my oorkom en het ek besluit dat ek dit moet keto-fy, sodat die low carbers en diabete ook kan saam eet! Hierdie is my aangepaste resep, maar ek moet eerlik sê dat as ek dit nie self gemaak het nie, ek nie sou geweet het dat dit keto is nie, want dis heerlik en smaak vir my nes die ware Jacob. Ek gaan dit in die toekoms ook as ‘n oorgooikors vir groter pasteie gebruik. Regtig baie lekker.
- Braai die volgende saam tot gaar en laat afkoel:
- 350 – 400 g beesmaalvleis
- ⅓ ui, gekap
- geurmiddels van jou keuse
- Skondeeg:
- 300 ml neut- of saadmeel van jou keuse (ek het 150 ml almond en 150 ml sunflower seed meel gebruik)
- 3 teelepels bakpoeier
- 2 eiers
- 175 ml onversoete amandelmelk
- 1 teelepel Aromat
- ½ teelepel sout
Meng al die bestanddele goed saam. Spuit ‘n muffin pan met Spray and Cook. Plaas ‘n teelepel deeg onder in elke holte, verdeel die maalvleis tussen die holtes en druk dit vas met ‘n teelepel sodat die skondeeg van onder af deur die maalvleis druk. Verdeel die oorblywende deeg tussen die 12 pasteitjies en smeer bo-oor.
Bak 15 min by 180°C , en dan nog 5 minute by 200°C totdat die pasteie mooi bruin is.
Laat bietjie afkoel, maak los met ‘n mes en skep versigtig uit.
Die totale deeg resep bevat 18 netto koolhidrate, wat elke pasteitjie 1.5 netto koolidrate maak.
Ek het vir die resep die olie uit die deeg gelos omdat die neutmeel ook olie bevat. Ek dink egter dat wanneer ek dit weer maak, ek 1 eetlepel olie of botter by die beslag sal byvoeg.
Resep en foto: Ilze Jacobs