KANTKOEKIES/SNACKLES
Terwyl ek vanmiddag so nostalgies terugloop in my jeugjare, onthou ek van hierdie heerlike bederfies waarmee ons gereeld bederf was en dadelik gaan soek ek naarstigtelik in my mammie se resepteboeke en kry toe hierdie weergawe van dié destydse gewilde onthaaltreffer. Dit kon toe nie hoë of laer nie en ek het net daar die ysters gaan opdiep en ‘n baksel van dit die lig laat sien.
- 250 ml koekmeel
- knippie sout
- 5 ml suiker
- 5 ml bakpoeier
- 2 ekstragroot eiers
- 125 ml water
- 125 ml melk
- 12.5 ml sonneblomolie
- ekstra sonneblomolie vir diep braai
Klits die eiers, melk en water saam. Sif die meel, suiker en sout saam, meng dit deeglik en roer by die eiermengsel in. Roer die bakpoeier by en meng deur die beslag en voeg dan die 12.5 ml olie by beslag en roer deur. Die beslag lyk amper soos pannekoekdeeg.
Verhit die sonneblomolie in ‘n diep kastrol en plaas skoenlapper- of blomystertjie in die olie en maak die ystertjies behoorlik warm. Wanneer die olie en ystertjie gereed en warm is, skud die oortollige olie van die ystertjie af, plaas die yster in die deeg, maar pasop dat die deeg nie oor die vormpie vloei nie, dan gaan die koekie breek wanneer dit afgehaal word.
Bak tot die beslag goudbruin is en nie meer aan die ystervorm kleef nie. Haal uit die olie, maak die vormpie versigtig los en plaas die vormpies op ‘n plat bord wat met kombuispapier bedek is sodat die olie kan dreineer. Herhaal die proses totdat al die beslag gebak is. Lewer ongeveer 3 dosyn koekies.
Nota:
Vir die snackles, gebruik die yster met die 3 of 5 klein vormpies en vul met enige geurige soutvulsel van jou keuse.
Vul die koekies/wafeltjies net voor opdiening met stroop, heuning of ‘n dikkerige karamelsous en sif ‘n bietjie versiersuiker oor of spuit ‘n roset van styfgeklitste room in die middel van die koekie/wafeltjie. Die koekies/wafeltjies kan ook met gestolde jellie voorgesit word, maar dan moet dit onmiddellik geëet word. Die ongebruikte koekies kan in ‘n lugdigte houer gebêre word.
Resep en foto: Elma Brittz-Venter