JALAPEÑO LEKKERTE
In my huis hou die lekkerte nie lank nie, want dit is heerlik saam met alles. Ons noem dit “cowboy candy”.
- 1 kg Jalapeños, in ringe gesny
- 1 koppie druiwe asyn
- 2 koppies suiker
- 1 teelepel borrie
- 1 teelepel gemmer
- ½ teelepel kaneel
- 3 knoffeltoontjies, lekker fyn gekap
- sout na smaak
Plaas al die bestanddele behalwe die Jalapeños in ‘n kastol op die stoof en verhit stadig.
Roer totdat die suiker opgelos het en bring tot kookpunt.
Voeg die Jalapeños in die kokende sous en kook vir ongeveer 6 min.
Die Jalapeños moet net gaar wees, maar nie sag of pap gekook nie.
Bottel die mengsel warm in gesteriliseerde flesse en seël dadelik.
Nota:
Skep eers die rissies in die bottels en vul dan die bottels met die stroop.
Ek bottel uit my tuin, so die hoeveelhede verskil, soms verminder ek die Jalapeños en kap soetrissies of selfs uie by om die hoeveelheid op te maak, dit maak die byt ook ligter.
Indien daar stroop oorbly, bêre dit in ‘n glasbotteltjie in die yskas. Dis heerlik oor vleis of ek drup dit sommer oor pizza of enige iets wat bietjie skop nodig het.
Resep en foto: Amanda Taylor