HOENDERKERRIE ALA WILMA
Wat is nou lekkerder op ‘n koue dag as ‘n pot kerrie? In die geval, lekker hoenderkerrie. Ek deel graag my resep.
- 4 hoenderborsies, ontbeen en in blokkies gesny
- 4 medium grootte aartappels, skil en al opgesny in kwarte
- 2 wortels, in ringe gesny
- ½ pakkie knopie sampioene, in skywe gesny
- 2 groot uie, in ringe gesny
- murg van groente of ertjies, na smaak
- 2 knoffelhuisies, opgekap
- 15 ml sterk kerriepoeier, gebruik soos jy verkies
- 12,5 ml (1 desertlepel) tamatiepasta
- 10 ml braaispeserye
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 50 ml kookolie
In ‘n swaarboom pot of pan:
Braai die hoenderblokkies in die olie tot bruin aan alle kante en skep uit.
Braai die uie, knoffel en al die speserye saam in die pan olies tot die uie deurskynend is. Voeg die vleis by en braai vir ‘n paar minute.
Sit die aartappels en wortels en 500 ml water in die pot en kook tot die groente gaar maar nog ferm is. Voeg die sampioene en murg van groente/ertjies by en kook tot gaar.
Meng die tamatiepasta met ‘n bietjie water en voeg 20 ml Maizena by.
Roer die tamatiepastamengsel deur die kerrie in die pot. en laat deur kook.
Dit maak ‘n heerlike sous.
Bedien met rys en ‘n groenslaai indien verkies.
Resep en foto: Wilma Josey Venter