HOENDERBORSIES MET GROENTE- EN KAASSOUS
- 6 klein hoenderborsies of 3 groot borsies, in die lengte deurgesny om 6 platter stukke te kry
- 2 eetlepels kookolie
- ongeveer 500 g gevriesde groente van jou keuse
- ongeveer 200 g sampioenskyfies
- 1 blikkie gekondenseerde hoenderroomsop of sampioensop (as alternatief kan 1 pakkie soppoeier met 2 koppies kookwater aangemaak word.)
- 1 koppie Cheddarkaas
- hoenderspeserye na smaak
Verhit die olie in ‘n groot kastrol of diep pan op medium hitte.
Strooi ‘n ligte lagie hoenderspeserye oor die borsies en braai die borsies in die olie vir ongeveer 15 minute in totaal aan elke kant of tot dit gaar is. (Hou in gedagte dat van die ander bestanddele ook sout in het wanneer die borsies gegeur word.)
Verwyder van die kastrol en bedek dit om warm te bly.
Voeg die groente, sampioene, sop en kaas bymekaar in dieselfde kastrol en kook op medium hitte vir ongeveer 7 minute tot die kaas gesmelt is en die sous goed warm is.
Rangskik die borsies in ‘n opdienbak bo-op ‘n laag rys en skep die sous bo-oor.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete