HEERLIKE KLAM, DONKER SJOKOLADEKOEK
Hier is ‘n resep van ‘n klam sjokoladekoek met ‘n olie-basis en ook ‘n foto van een van die koeke wat ek bak. Het ongelukkig nie een wat wys hoe dit binne-in lyk nie.
- 500 ml suiker
- 3 groot eiers
- 125 ml kookolie
- 500 ml koekmeel
- 125 ml swart kakao
- 8 ml koeksoda
- 8 ml bakpoeier
- 2 ml sout
- 250 ml karringmelk
- 10 ml vanilla geursel
Voorverhit oond tot 180°C.
Smeer 2 x koekpanne van 20 cm.
Klits die suiker en eiers goed saam, voeg olie by en klits tot lig en romerig.
Sif die droë bestanddele saam en vou by die eier en suikermengsel.
Voeg die karringmelk en geursel by en meng.
Skep die beslag in een pan en bak 45 – 50 min of in twee panne en bak 30 – 35 min.
Keer uit op draadrak en laat afkoel.
Nota:
Om seker te maak die koek is baie donker:
Die heel beste gaan wees as jy swart kakao gebruik – kry dit by bakkerswinkels. Dit gee ‘n ongelooflike lekker smaak aan die koek en ‘n pragtige diep donker kleur.
Maak ook seker jy maak ‘n koek met ‘n olie-basis – dis baie klammer as ‘n koek wat met botter/margarien gemaak word.
Resep en foto’s: Michelle Polley
Foto 2: Hier kan mens sien hoe mooi die swart kakao werk met die versiersel.













