HEERLIKE HERTZOGGIES
Goeie môre almal. Ek het gister bietjie gebak en brou en onder andere dié heerlike Hertzoggies gemaak.
Lewer ongeveer 28 Hertzoggies
- Kors:
- 2 koppies bruismeel
- 150 ml strooisuiker
- 5 ml bakpoeier
- 125 g (½ koppie) botter, in blokkies gesny
- 3 groot eiergele
- 1 eetlepel yswater
- Knypie sout
- Vulsel:
- 150 ml koue fyn appelkooskonfyt (ek skat maar met die oog)
- 3 groot eierwitte
- 1 koppie suiker
- 2 koppies klapper
- 5 ml vanilla geursel
Voorverhit die oond op 180 º C en smeer/spuit patty panne.
Sif die meel, strooisuiker, bakpoeier en sout.
Vryf die botter met jou vingerpunte in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk (ek doen dit in die voedeselverwerker).
Voeg eiergele en yswater by en haal uit voedselverwerker sodra dit ‘n bal vorm. Bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 20 minute.
Rol die deeg uit tussen 2 lae bakpapier, so 4-5mm dik (ek rol nie al die deeg op een slag uit. Ek breek stukke deeg af, rol uit, lê in pannetjie en breek nog deeg af tot al die deeg op is)
Gebruik ‘n ronde koekie drukker en druk sirkels uit en lê dit uit in die holtes van die pannetjie.
Klits eierwitte tot sagtepunt en voeg suiker stadig by terwyl jy klits. Klits tot dik en glansend.
Vou die vanilla geursel in en dan die klapper.
Skep teelepels vol konfyt in elke holte en bedek met eierwittemengsel (sorg dat die eierwitte die randjie van die deeg raak (seël) en daar geen openinge is nie, maar moenie dat die eierwitte die hele randjie toemaak. Sorg ook dat van die konfyt nie op randjie van die doppie lê nie, anders kook dit uit).
Bak vir 20 – 25 min tot bruin.
Resep en fotos: Landi Hartzenberg Ferreira