HEERLIKE GEMMERKOEKIES MET STERK GEMMER SMAAK
Lockdown day #292🇿🇦
- 1 ½ kg bruismeel
- 1 kg suiker
- 500 g botter
- 4 eetlepels gemmer
- 1 eetlepel kaneel
- 1 teelepel neutmuskaat
- 3 eetlepels vars gemmer, gerasper
- 4 eiers
- 500 g karamel gegeurde stroop
- 1 eetlepel koeksoda (bicarbonate of soda) gemeng met ‘n bietjie asyn
- 1 eetlepel kremetart
Smelt die botter, suiker en goue stroop saam en laat effens afkoel. Klits die eiers en voeg by en dan die koeksoda en asyn mengsel. Meng die res van die droë bestanddele by.
Dit is ‘n stywerige deeg wat jy in bolletjies rol – ek het myne met ‘n “melon baller” uitgeskep en gerol (sien foto). Ek het die bolletjies in ligte bruin suiker gerol en op bakpapier op bakplaat gesit. Nie nodig om die papier te spuit. Die bolletjies gaan vanself afsak.
Voorverhit oond en bak teen 180° C vir 15 minute. Ek bak in my gasoond, so bak vir 20 minute.
Nota:
Dis ‘n harde koekie maar as jy dit paar minute korter bak is dit sagter en ligter van kleur. Ek het met verskillende kleure suiker getoets om te sien hoe dit uitkom.
Ook ‘n paar sonder suiker en korter gebak vir sagte koekie.
Dis nogal baie deeg so ek het 5 rolletjies deeg in kleefplastiek in vrieskas gesit om op ander dag te bak. Ek reken met die kleiner koekies is daar genoeg deeg vir 400 koekies.
Ek het deur Tosca de Villiers se resep gelees as basis en my eie veranderinge aangebring soos bo genoem.
Aanpassings aan resep en foto’s: Elsabie Templeton
Foto: Alida Siebert – Baaaie lekker. Ek het net die kaneel en neutmuskaat vervang met nog gemmer.