GRANADILLA KLAPPER SKYWE
Hierdie is ‘n baie ou resep wat ek so bietjie aangepas het. Dit is ‘n ligte koekie basis met ‘n granadilla bolaag. Die koekie laag is nie sag nie, maar meer die tekstuur van ‘n botter koekie. Regtig iets heerlike vir saam met koffie of tee, of sommer net so te eet.
- 1 koppie bruismeel
- ½ koppie strooisuiker
- 1 koppie fyn klapper
- 140 g gesmelte botter of bak margarien
- 80 g granadillapulp ( ongeveer 5 – 6 eetlepels)
- 1 blik kondensmelk
- 85 g roomkaas
- 50 ml suurlemoensap
Voorverhit die oond tot 160ºC (waaier aan). Smeer of spuit ‘n langwerpinge bak van 18 x 28 x 5 cm of dieper. (Maak seker die pan is lekker diep anders gaan jy teveel vulsel hê.)
Sif die meel en strooisuiker saam. Voeg die klapper en gesmelte botter by en meng tot ‘n deeg vorm. Druk die mengsel stewig vas op die bodem van die pan en maak gelyk met ‘n lepel.
Bak vir ongeveer 10 – 12 minute of tot effen verbruin. Die deeg sal effen rys, dit is reg so. Haal uit die oond en plaas eenkant om effens af te koel.
Verminder die oond se hitte na 150ºC.
Skep die kondensmelk in die bak van ‘n menger en meng goed, skep die roomkaas lepel vir lepel by en meng goed. Voeg die granadillapulp by en meng net deur terwyl die suurlemoensap by gegooi word in ‘n dun straaltjie. Meng tot alles goed gemeng en dit effen verdik.
Skep die vulsel oor die gaar basis, sit terug in die oond vir ongeveer 15 minute of tot die granadilla laag stewig is wanneer jy liggies daaraan raak.
Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel voordat dit gesny word.
Nota:
Die skywe kan net so bedien word of kook ‘n stropie van granadilla pulp en suiker, en bedien dit bo-op soos op die foto. Die koekie laag is redelik hard as mens botter gebruik, so haal die skywe uit die yskas ‘n tydjie voor jy gaan bedien. Dit is voorwaar heerlik.
Resep en foto: Rina Kleinhans