GIDEON SE POTBROOD
Ek was al laaaaankal lus vir ‘n lekker potbrood met koue gesnyde bokboudvleies en botter daarop en vanaand wassit sy beurt.
- 4 koppies koekmeel
- ½ teelepel sout
- 1 desertlepel suiker
- 1 pakkie kitsgis
- 400 ml louwater
- 1 desertlepel olyfolie
Sif die koekmeel in ‘n mengbak en voeg die sout, suiker en kitsgis by.
Meng die louwater en olyfolie, voeg by en meng goed saam. Knie tot ‘n elastiese deeg.
Maak die deeg ‘n ronde bal, plaas in ‘n platboom swartpot en laat rys tot dubbel in volume op ‘n warm plekkie. Ek sit dit sommer naby die vuur vir ‘n bietjie hitte.
Plaas matige kole onder die pot, asook bo-op die deksel en bak vir 50 min tot ‘n uur.
Smeer die korsie met botter.
Sny die brood in snye met ‘n skerp broodmes, smeer die warm brood met botter en plaas stukkies gesnyde oorskiet koue bokboudvleis daarop. Sjoeeee djeerlik bly maar lekker!
Vroulief het natuurlik die tradisionele brood met tuisgemaakte appelkooskonfyt en kaas verkies, sy moet mos altyd anners wees. Wie ken nou nie kaas en jêm nie, maar wie het al koue bokboudvleis op ‘n sny warm potbrood met botter geëet, ekke het!
Resep en foto: Gideon Louw
2de foto: Wilma Prinsloo
Gideon Louw se potbrood resep verander in roosterkoeke met cheese grillers en kaas binne toegedraai, en op die kole stadig gebraai tot lekker gaar en kaas goed gesmelt – fantastiese resep!