GEVULDE VARKLENDE
- 600 – 700 g heel varklende (porkloin)
- 1 pak babaspinasie
- ½ blok of ½ bakkie roomkaas
- 5 knopiesampioene
- 2 pakke streepspek
- 3 skyfies gerookte ham
- sout en peper na smaak
- bietjie olyfolie
Sny die vleis met ‘n skerp mes in die middel, maar moenie deursny nie. Plaas die oopgevlekte vleis tussen twee lae kleefplastiek en kap dit platter met ‘n vleishamer of koekroller. Braai die spinasie in die olyfolie tot sag en geur met sout en peper. Wanneer sag, dreineer die vog goed af en meng die roomkaas en die spinasie. Braai die sampioene tot gaar in dieselfde pan as die spinasie. Pak die streepspek op ‘n skoon laag kleefplastiek en plaas die varkvleis bo-op die spek. Plaas die spinasie, gerookte ham en sampioene in dié volgorde op die oopgevlekte vleis.
Rol dit redelik styf in die kleefplastiek toe en knoop die plastiek se punte toe. Plaas in die yskas vir ongeveer 30 minute om te verkoel.
Haal die plastiek van vleis af, plaas in ‘n oondpan met die naat na onder.
Bak vir 40 – 45 minute teen 180 ºC. Rooster dit vir nog 5 minute of tot die spek lekker bros is.
Bedien met kapokaartappels en Griekse slaai.
Nota:
Dis nie nodig om die vleis te sout nie, aangesien die spek reeds sout genoeg is.
Resep en foto’s: Sarie Havenga