GEROOSTERDE BOTTERSKORSIESOP MET LEMOEN
Ek het vanmiddag hierdie heerlike botterskorsiesop gemaak. Ek het die oorspronklike resep op ons blog gekry maar hom so bietjie aangepas dat mens nie hoef skuldig voel wanneer mens die sop geniet nie.
- 1 ui, grof gekap
- 700 g botterskorsie, afgeskil en in blokkies gesny
- 1 groot appel, of 2 kleintjies geskil en in blokkies gesny
- 45 ml olyfolie
- 50 ml “lite” hoendersoppoeier, of 45 ml koekmeel
- 5 ml kerriepoeier
- 5 ml sout
- 1 ml gemaalde neutmuskaat
- 1 ml kaneel
- 750 ml water
- 2 hoenderaftreksel blokkies
- 375 ml laevet melk, of volroom indien verkies
- fyngerasperde skil en sap van 1 lemoen
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- vars koljander- of pietersielieblare
- 2 teelepels versoeter, opsioneel
Verhit die oond tot 200 ºC.
Meng die uie, botterskorsie en appel met olie, versprei in ‘n enkellaag op ‘n bakplaat en bak 30 min.
Terwyl die groente in die oond is, verhit die water in ‘n groot kastrol tot kookpunt. Voeg die hoenderaftrekselblokkies, melk, lemoenskil en sap by. Sodra warm, sit die plaat af en laat die geure lekker trou.
Haal die groente uit die oond en roer die soppoeier, kerriepoeier, sout, kaneel en neutmuskaat deeglik deur die groente. Voeg die groente by die melkmengsel op die stoof en sit die plaat op medium hitte. Prut vir ongeveer 15 minute.
Versap met ‘n handmenger sommer in die pot en pas die sout en peper aan na smaak.
Indien jy die sop bietjie soeter verkies kan jy die versoeter inmeng en net vinnig weer laat deur kook.
Bedien saam met die gekapte koljander- of pietersielieblare, en indien verkies ‘n lekker skeut room.
Resep aangepas en foto: Rina Kleinhans