GEMARINEERDE BIEFSTUK “ROAST BEEF”
Vir dié van julle wat nie voor ‘n stoof wil staan met ‘n roast nie is hierdie ‘n lekker koue alternatief. Ek gebruik hom graag as ek ‘n buffet voorsit.
- 5000 g biefstuk bv silverside, ek gebruik 2 x 1½ kg ewe groot stukke vleis
- Marinade:
- 500 ml soet sojasous (ketjap manis )
- 100 ml balsamiese asyn
- 7 ml sout
- ½ teelepel swartpeper
- 50 ml bruinsuiker
- 15 ml rosépeper, grof gemaal, nie fyn nie… rooi peper
- 50 ml vars roosmaryn
- 100 ml vars tiemie, gekap
- 3 knoffelhuisies, gekneus
Voorverhit die oond na 100 ºC.
Laat die vleis ongeveer 2 ure staan teen kamertemperatuur voordat jy dit in die oond sit.
Plaas die vleis op ‘n rakkie in ‘n oondvaste bak en druk ‘n termometer in die dikste gedeelte van die vleis.
Die vleis is rooi wanneer die interne temperatuur 60 grade is, lekker en sappig as dit 65 – 70 grade wys.
Die vleis is regdeur gaar, maar ook ‘n bietjie droog, wanneer die termometer meer as 70 grade wys. (ek haal hom uit hier by 65 grade dan gaan hy nog so 2 tot 3 gade op buite die oond)
Los die vleis om af te koel.
Meng al die bestanddele vir die marinade saam.
Neem twee sterk sakkies en plaas die een in die ander.
Plaas die vleis in die sakkies en gooi die marinade oor. Maak die sakke toe en verseker dat hulle nie lek nie.
Sit die vleis vir ten minste 24 uur in die yskas en draai dit gereeld gedurende hierdie tyd om.
Nota:
Wanneer jy dit wil bedien, sny dit in baie dun skywe en rangskik dit op jou opdienbord. Versier soos verkies.
Die vleis wat ek nie dadelik gebruik nie plaas ek terug in die marinade en in die yskas. Ek het dit al ‘n week in die yskas gehad… dit word net lekkerder.
Foto: Nadia Thölix
Resep geplaas deur Wilanda Räsänen