GEELPERSKE FYNKONFYT
Ek en my wonderlike vroulief het ons heel eerste geelperske fynkonfyt gemaak. Ons eie boom se perskes.
- 2.5 kg geelperskes, geskil en ontpit
- 2.5 kg suiker
- 2 eetlepels suurlemoensap
- 1 koppie water
Gebruik slegs mooi goeie gehalte perskes. Was dit af. Skil dit en sny op in stukkies.
(Ons wou dit fyn konfyt hê so het dit in die voedselverwerker”blender” fyn gemaak)
Smeer die pot se bodem en kante met botter/margerien.
Plaas ‘n laag perskes in en dan ‘n laag suiker. Weer ‘n laag perskes en bedek met suiker.
Voeg die koppie water ook in.
Begin op ‘n lae hitte dit warm te maak totdat al die suiker opgelos is.
Daarna draai die hitte op sodat dit lekker kook. (Sit ‘n eetlepel botter heel bo-op om te verhoed dat dit oor kook)
Sit ‘n klein bordjie in die vrieskas sodat dit later gebruik kan word om te toets of konfyt reg is.
Maak seker die bottels is mooi skoon gemaak met warm water en dat dit heeltemaal droog is.
Kan selfs in die oond laat bietjie warm word sodat dit nie bars as die warm konfyt ingegooi word nie.
Roer die heeltyd die konfyt in die pot. Kook vir 45 – 60 min.
Skep gedurig-deur die skuim wat dit maak af met ‘n lepel.
As dit begin lyk soos konfyt, gaan haal die klein bordjie uit die vreiskas en skep so bietjie op die bordjie.
Laat dit mooi koud word (3 min of so). Toets dan met jou vinger wat jy daardeur trek of dit reg is. As dit reg is sal dit nie na mekaar toe loop nie. Of kan ook bietjie tussen jou vingers vat en dit so trek, dit moet so effense draadjie trek.
Sodra jy gelukkig is, kry die bottels. Draai die hitte baie laag en skep uit met ‘n soplepel in die botteltjies.
Dit is kokend warm, so sit die botteltjie dalk op ‘n bordjie en hanteer dit met ‘n natterige lap.
Maak die botteltjie propvol tot bo. Vee die rand mooi liggies af en draai dan die prop op.
Draai dit om nadat die prop op is en laat dit op sy kop koud word sodat enige lugborrels kan uitgaan en die deksel goed seël.
Dit sal lekker gaan saam ‘n stukkie toast en koffie…Hmmmm!
Resep en foto: Phil en Chanel Klopper