GEBAKTE WORTELTERT
Hierdie soet tertweergawe van wortels was jare ‘n gunsteling in ons huis toe die kinders nog in die huis was en ek is nou al baie lankal weer lus vir dit. Sondag het ek besluit om my kleinseun te bederf en terwyl hy vleis gebraai het, het ek gou die tert gebak. Dit was weer ‘n wenner.
- ½ koppie suiker
- ½ koppie koekmeel
- ½ koppie melk
- 2 eiers
- 2 eetlepels botter
- 1½ teelepel bakpoeier
- 750 ml gerasperde wortels
- ½ koppie rosyntjies of sultanas, opsioneel
Meng alles behalwe die wortels en rosyne. Meng die wortels en rosyne deur die deegmengsel en skep in ‘n vuurvaste bak (23 x 23 cm). Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180 ºC vir ± 45 minute tot ‘n uur. Wanneer gaar, verwyder uit die oond, prik met ‘n vurk en giet die warm stroop oor.
- Stroop:
- ½ koppie bruinsuiker
- 2 eetlepels goue stroop
- 1½ eetlepels botter
- 1 teelepel maizena (mielieblom)
- 1 teelepel vlapoeier
Meng bogenoemde bestanddele met ½ koppie water en kook saam. Giet kokende stroop oor warm tert.
Resep en foto’s: Elma Brittz-Venter