FYNGEMAAKTE BLOMKOOL- EN SPINASIEGEREG
Geen groot ingewing en geen besondere resep nie, maar dit lyk en proe beter as “blomkool-mash”
- 1 groot rooi of wit ui, gekap
- olie om ui te braai
- 2 eetlepels balsamiese asyn
- 1 eetlepel, of minder bruinsuiker
- 1 kg blomkool, opgebreek
- 300 g baba-spinasie
- ½ koppie water, of meer, besluit self
- 1 teelepel fyn neutmuskaat
- 2 teelepels seesoutvlokkies
- 1 teelepel Tabasco, opsioneel
- 1 teelepel swart peper
Braai die gekapte ui tot sag; roer dikwels.
Voeg asyn en suiker by. (Mens kan dit uitlaat). Dit sal wegkook, maar gee geur.
Voeg die 2 groentes by, en dan die water.
Hier moet mens maar oordeel: draai die hitte laer, hou die pot dop — daar moet genoeg vloeistof wees sodat die groente fyngemaak kan word. (Gisteraand het ek so’n opgehoopte lepel creme fraiche ingeroer).
Voeg neut, sout, Tabasco en peper by.
Gebruik ‘n staafmenger om alles sommer in die pot fyn te maak sodra die groente sag is.
Nota:
‘n Lekker bykos, of selfs as “topping” vir ‘n herderspastei.
VIR BANTERS:
As jy wil, los die eerste 4 bestanddele uit, en gebruik net die res.
Dit maak ‘n mooi groen “mash” — iets anders as gewone blomkool-moes!
Foto en resep: Zuri Roos