EMPANADAS
Vanoggend na ek wildspasteitjies gemaak het, gebruik ek die oorblywende stukkies winkel pastei (puff) deeg en maak Empanadas. Helfte springbok vulsel en ander helfte, oorskiet kapokaartappels. Bak in olie tot bruin en geniet, heerlik gedoop in sous van jou keuse. My man en kleinkinders sê die tuna was vir hul die lekkerste. Hulle is maar net deurgeëet aan die wild. Jy kan enige vulsel gebruik, the sky’s the limit. My dogter hou weer van kaas, jalenpinos en suikermielies.
- 1 rol skilferkorsdeeg “Puff Pastry”
- olie, vir diep braai
- Tunavulsel:
- 1 koppie kapokaartappels
- 1 blik tuna
- mayonnaise of peri peri sous, na smaak
- skoot suurlemoensap
- visspeserye
- Wildsvleis vulsel:
- wildsvleis
- sout, peper en knoffelpoeier
- beesstert soppoeier
Kook die wildsvleis van die bene af saam met sout, peper en knoffelpoeier.
Wanneer die vleis lekker fyn gekook het en al die beentjies verwyder is, sit terug op die stoof en maak die sous dikker met die soppoeier opgelos in bietjie water.
Kook goed deur, laat heeltemal afkoel en gebruik as vulsel.
Meng die bestanddele van die tunavulsel saam en gebruik as vulsel.
Om die Empanadas te maak:
Rol die deeg uit op meelbestrooide oppervlakte.
Sny sirkels uit die deeg soos op die foto, plaas die vulsel in die middel en vou om ‘n driehoek te vorm, seël die kante baie goed deur dit te vou.
Braai in diep olie tot mooi goudbruin. Moenie olie te warm maak dat die empatadas te donker raak nie.
Nota:
Ek het 18 Empanadas uitgekry.
Vir pasteitjies kan jy dit met geklitste eier smeer en in die oond bak teen 180ºC tot mooi bruin, ongeveer 15 tot 20 min.
Resep en foto: Carla Botha