ELIZE SE BOONTJIESOP
- 2 kg ontbeende lamskenkels (hou die murg)
- 2 x 500 g pakkies suikerbone
- 1 blikkie tamatie en uiesmoor
- sout
- grofgemaalde swartpeper
- witpeper
Laat lê boontjies in kookwater. Sodra die water koud is, gooi af en spoel die boontjies mooi skoon. Laat lê weer in kookwater en laat staan oornag. Spoel dan weer mooi af.
Gebruik ‘n groot kastrol (Ek gebruik n 5 L kastrol).
Spuit kastrol met ‘n kleefwerende middel.
Sout en peper die vleis en pak onder in die kastrol tesame met die murg.
Giet die tamatie en uiesmoor bo-oor.
Plaas dan die boontjies bo-op.
Vul die pot driekwart met water.
Sprinkel nou weer sout en swartpeper na smaak.
Kook stadig terwyl jy watervlak dophou. Die sop moenie te waterig wees nie. Eerder ‘n dik sop waar jy water kan byvoeg indien nodig.
Sodra alles deursag gekook is, maak behoorlik fyn.
Proe maar of nog sout en peper nodig is.
Ek voeg weer gemaalde swartpeper en bietjie witpeper by na fynmaak en kook vir nog so ‘n halfuur op stadige hitte. Ek’s nie suinig met peper. Die sop is heerlik met ‘n “byt”.
Hierdie resep is eenvoudig heerlik sonder te veel soorte speserye en soppoeiers wat sy natuurlike smaak beinvloed. Die geheim van hierdie boontjiesop is baie vleis en goeie vleis.
Nota:
Hierdie het ek op lae hitte deur die nag gekook. Stoofplaat op 1 tussen 11 uur en 5 vanoggend. In ‘n stoompot sowat ‘n uur. As ek gewone kastrol gebruik as ek hom in die dag kook, kook ek op hoog vir sowat ‘n uur en dan op medium hitte vir so 2 ure. Ek hou regtig nie eintlik tyd dop. Ek kook tot alles sag is.
Geniet!
Resep en foto: Elize Viljoen