EIERVRUG, ROOIPEPER EN UIE WONDER QUICHE-GLUTEN FREE
Hoekom ‘n “Wonder Quiche”? Al die bestanddele word op een slag gebak, en as jy dit uithaal wonder jy hoe dit gebeur het. ‘n Kors met ‘n vulsel, amper soos ‘n paptert! Goeie alternatief in die plek van ‘n paptert saam met braaivleis of lekker geroosterde skaap tjoppies.
- 1 eiervrug, geskil en in blokkies gesny
- 1 middelslag ui, grof gekap
- 1 rooipeper, grofgekap (of groen of geel soos jy verkies)
- 2 tot 3 grasuie, opgekap
- knoffel
- pietersielie
- paprika
- 2 eetlepels olyfolie
- ½ koppie gluten free bruismeel
- ¾ koppie melk of plaasvervanger (ek het Parmalat lactose free gebruik)
- 2 eiers
- 1 koppie bokmelk Cheddar, grof gerasper
- sout en peper
- 3 tamaties, dun ringe gesny
Braai op medium tot lae hitte die eiervrug, uie, rooipeper, knoffel en grasuie tot amper sag.
Sit die pietersielie en paprika by en laat nog saam uitbraai tot die eiervrug sag maar nie pap is nie.
As mengsel reg is, skep in ‘n klein metaal oondpannetjie of metaal flan pan.
Maak seker die bodem en kante van die pan is goed gesmeer met olie of botter.
Meng in ‘n mengbak die bruismeel, melk, eiers, sout, peper en helfte van die bokmelk kaas.
Moenie die eiers oorwerk nie, anders gaan die kors nie lekker verbruin nie.
Giet die eier-deeg oor die groentemengsel in die pan en versprei egalig.
Pak die ringetjies tamaties eweredig bo-op en sprinkel die ander helfte van die bokkaas bo-oor.
Vir garnering strooi bietjie paprika en pietersielie oor.
Bak by 210°C (thermofan oond 200°C) vir 20 – 30 minute tot goudbruin en die middel goed geset is.
Nota:
Indien mens dit wil uitkeer, laat staan quiche vir tenminste 5 minute eers so in die pan en keer dan baie versigtig uit.
Onthou dat GF meel baie smaakloos is en 100% bokkaas cheddar gewoonlik nie ‘n sout ondertoon soos gewone Cheddar het nie, maak dus seker die deeg-mengsel het genoeg gerumiddels in.
Ek het ‘n reghoekige bak gebruik en sal volgende keer bietjie meer van die groentemengsel maak, dink dit gaan perfek werk vir ‘n ronde pan.
Foto: Lindi Erasmus