DIE BESTE SJOKOLADE BESKUITJIEKOEK
(Chocolate Biscuit Cake)
Hierdie is een van my gunsteling resepte. Ek weet daar is baie van die resepte op die internet maar hierdie een is die BESTE. Baie hier in Ierland het my al gesmeek om die resep te gee, maar wou nooit dit deel nie, want dis my eie resep wat ek oor die jare volmaak het. Dis die maklikste ding om te maak, maar waar die geheim inkom, is in die mates en manier.
- 600 g Nuttikrust (Die beste is die wat hawer en klapper in het) ***
- 300 g 50% donker sjokolade
- 200 g melk sjokolade
- 350 g botter (nie margarien nie)***
- 100 g gouestroop (sit blikkie of botteljie in warm water. Dis beter om mee te werk)***
Breek al die koekies ‘n bietjie kleiner en sit eenkant.
Plaas die sjokolade, botter en gouestroop bymekaar in ‘n plastiek bak, dan in die mikrogolfoond. Stel dit vir 2 minutes op ‘n slag en meng dan elke keer as die tyd om is.
Moet nie bekommerd wees dat die sjokolade gaan brand nie, want die botter en stroop sal dit verhoed. As alles gesmelt is, kry ‘n vierkantige bak en sit bakpapier in.
Ek smeer gewoonlik ‘n bietjie botter aan die bak sodat die papier nie moet rond beweeg nie.
Skep ‘n ¾ van die sjokolademengel by die koekies en roer goed deur.
Skep in vierkantige bak en druk lekker plat met ‘n aartappel drukker.
Giet dan die res van die sjokolademengsel bo-oor en maak gelyk.
Verkoel tot dit hard is en sny in blokke.
As jy wil kan jy bietjie wit sjokolade smelt en bo-oor bedruip met ‘n vurk vir ‘n mooi effek.
Resep en foto: Kyle Jensen