Your Recipe Blog

DAMARA BENEVLEIS POTJIE

Cook: ongeveer 2 ure | Servings: 4 porsies

DAMARA BENEVLEIS POTJIE

Die Damara`s van Namibië maak die potjie met Namibiese Kapana speserye. Hier is my weergawe omdat ek nie Kapana speserye kon kry nie. Dit was voorwaar bleddie lekker.

  • 1.2 kg bene-beesvleis
  • olie
  • paprika na smaak
  • 2 teelepels “six gun” speserye
  • 1 teelepel matige kerriepoeier
  • ½ teelepel mostertpoeier
  • witpeper en of swartpeper na smaak
  • 1 teelepel fyn knoffel
  • ½ teelepel rissie vlokkies
  • Worcester sous na smaak
  • 3 wortels, geskil en gesny
  • 2 groot patats, geskil en in ringe gesny
  • 6 aartappels, geskil en in ¼’e gesny, hou 1 heel
  • 2 uie, geskil en in ringe gesny
  • 4 tamaties, opgekap
  • ½ sakkie tamatie pasta
  • 2 teelepels suiker
  • 1 teelepel appelkooskonfyt
  • sout na smaak

Voeg bietjie olie in die pot sodat die vleis nie sal vasbrand nie, verhit die pot tot warm, maar nie te warm.
Voeg al die vleis in die pot, sprinkel paprika, Six gun speserye, kerrie, mostert, gemaalde swartpeper, witpeper, knoffel, rissie vlokkies en Worcestersous oor die vleis.
Giet olie bo-oor die vleis en meng alles goed deur, verhoog die hitte nou.
Die idee is nie om die vleis te verbruin nie, maar net alles goed deur te meng.
Voeg water by soos nodig.
Plaas die deksel op en kook die vleis vir ongeveer 90 min, sodat die vleis lekker gaar en sag kan word.
Na 30 min, voeg ‘n teelepel sout by.
Na 90 min, voeg die wortels in die pot.
Roer deur, onthou hierdie is `n bredie nie `n potjie nie. Jy kan dit na hartelus roer net soos jy wil.
Voeg die patats en aartappels by.
Gebruik een aartappel en sny of rasper dit baie fyn en voeg dit by, dit help om ‘n lekker sous te maak.
As die aartappels so 30 min gekook het, voeg die uie ringe bo-op en dan die opgesnyde tamaties.
Voeg nog ‘n teelepel sout by en voeg die tamatie pasta ook by.
Roer alles goed deur en laat die pot nou lekker stadig kook.
Wanneer die tamaties weggekook is, behoort die pot gaar te wees, maak seker die aartappels is sag.
Ongeveer 10 min voor opskeptyd, voeg die suiker en appelkooskonfyt by of opsioneel, bietjie blatjang.
Lekker saam met pap, grys of brood.
Jy kan lekker speel met die hoeveelhede vir die potjie.

Nota:
Ek het nou `n resep vir Kapana speserye gekry. Dit is aangeheg onder-aan die resep.

NAMIBIESE KAPANA SPESERYE

Die kapana-speserymengsel sal maande lank hou as dit in ‘n lugdigte houer op ‘n koel en droë plek gebêre word.

  • 1 eetlepel knoffelpoeier
  • 1 eetlepel uie-poeier
  • ¼ teelepel fyn koljander
  • 1 eetlepel gerookte paprika
  • 1 eetlepel soet paprika
  • 1 teelepel rissie vlokkies
  • 1 eetlepel gedroogde tiemie
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel mosterdpoeier
  • ¼ teelepel fyn komyn
  • 1 eetlepel bruinsuiker
  • 1 eetlepel gemmerpoeier
  • 1 teelepel fyn peper

Al wat jy hoef te doen is om al die bestanddele saam te kombineer.
Laat die speserymengsel vir ‘n paar dae trek, sodat die geure kan saamsmelt voor gebruik.

Resep getoets en aangepas: Japie Smit

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page