CIABATTA SONDER MOEITE
Ek het vandag hierdie gebak van ‘n 2016 resep af…. absoluut heerlik!!!
Dis die lekker Italiaanse brood vol gate, en sommer baie maklik om te maak. Die geheim is om dit in jou elektriese mengbak te doen.
- 500 g (890 ml) koekmeel
- 500 ml water
- 1 pakkie (10 g) kitsgis
- 10 g sout
- ekstra meel vir sif
Verhit oond tot 220 ºC.
Plaas al die bestanddele in die bak van elektriese menger. Meng dit met die mengspaan (K-beater) vir sowat 10 – 12 minute op volspoed totdat die beslag ’n bal vorm in die middel van die bak. Los beslag in bak en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op ’n warm plek vir sowat 30 minute tot dubbel die volume. Sif ’n dik laag meel op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Sif nog meel op werkvlak en keer deeg versigtig uit. Sif ekstra meel oor deeg en sny deeg versigtig in twee helftes. Moenie die deeg te veel hanteer nie. Lig deeg met een beweging op en plaas op bakplaat. Herhaal met tweede stuk deeg. Vorm die deeg met jou vingerpunte in ’n langwerpige brood. Plaas dadelik in die oond en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar.
Wenk:
Jy moet dié brood in ’n elektriese menger maak, want die deeg is te loperig om dit met die hand te meng.
Resep: Herman Lensing 2016
Foto: Cobie Gagiano