Your Recipe Blog

BRUIN KORRELSUURDEEG BESKUIT

BRUIN KORRELSUURDEEG BESKUIT

  • In ‘n groot knieskottel, sif saam:
  • 2,5 kg bruinbrood koringmeel
  • 700 g strooisuiker (castor sugar)
  • 3 teelepels sout
  • Meng hierby:
  • 1 pakkie anys (indien verkies)
  • Vryf 300 g botter/bak-margarien, kamertemperatuur of gesmelt, by die meelmengsel totdat dit soos broodkrummels lyk.

Maak ‘n holte in die middel van die meel, sodat die suurdeeg daarin gegooi kan word.

  • Suurdeeg:
  • Sif  saam:
  • 500 g koekmeel
  • 3 pakkies Achor Yeast
  • In ‘n ander groot vlekvrye staalbak, klits effens saam:
  • 4 eiers
  • 1 blik kondensmelk
  • 6 ½ koppies sterk-lou water (gebruik eers 4 koppies en 2 ½ koppies later)

Klits nou die meel met gis by net totdat die klonte opgelos is.
Voeg die oorblywende 2 ½ koppies water by en meng goed met ‘n lepel.
Sodra die suurdeeg borrels maak (feitlik onmiddellik nadat dit aangemaak is), giet dit by die meelmengsel.
Werk dit goed deur en knie totdat die deeg elasties is – ongeveer 10 – 15 minute (of gebruik jou elektriese menger).
Die deeg het ‘n ferm tekstuur, maar nie te styf nie. Indien nog water benodig word, giet ‘n bietjie lou water by die deeg en knie dit behoorlik deur.
Bedek die deeg met plastiek sodat die deeg in die proses nie bo-op droog word nie.
Maak die skottel met ‘n kombers of tafeldoek toe en sit die skottel op ‘n warm plek waar die deeg kan rys (of sit ‘n warmwatersak onder die deegskottel).
Laat dit ongeveer die helfte van die volume van die deeg rys.

Spuit 3 beskuitpanne met Spray and Cook of (verkieslik) voer die panne met bakpaper uit.
Maak bolletjies van 70 g en pak dit in rye – redelik styf teen mekaar.
Maak die panne toe met foelie of plastiek sodat die deeg nie bo-op droog word nie.
Laat dit op ‘n warm plek rys totdat die deeg net bietjie bokant die rand van die pan is.

Nota:
(Ek het 3 vierkantige Pyrex glasbakke gebruik. Dit is 26 x 21 cm en 8 cm diep.
Die bolletjies was 40 g elk. So kon ek mooi sien hoe bruin my beskuit bak.)

Bak dit by 160ºC vir 30 min, bedek dan met foelie en bak verder vir nog 45 min.
(Pyrex-bakke ook – bedek na 30 min met foelie en bak verder vir nog 40 min.)
Die beskuit bak langer by hierdie temperatuur as wat dit sou wees indien jy die beskuit by 180ºC bak.
Maak seker dat die beskuit lank genoeg gebak het.

Maak ‘n lekker soet stropie van suiker en water aan en verf dit met ‘n kwas bo-op die korsies van die beskuit sodra dit uit die oond kom.
Laat die beskuit effens afkoel, keer dit uit die panne en sit op draadrakke om verder af te koel.
Sodra die beskuit koud is, verdeel die individuele beskuite in die grootte van jou keuse.
Maak oornag droog by 70ºC.

Nota:
Bêre so ‘n paar nat beskuite – ai, te lekker met botter en appelkooskonfyt.

Resep geplaas deur Anne Snyman
Foto: Anne Snyman

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page