BOBAAS GEMMERKOEKIES
Foto 1: Amanda Struwig
Foto 2 Debbie O’neill
Foto 3: Gideon Louw
Hierdie is maklik die heerlikste gemmerkoekies wat ek nog ooit geëet of gebak het! Lekker bros, nie te veel gemmer, sommer net heerlik. Met krakies en al 🙂 Hierdie is ‘n harde gemmerkoekie perfek met krakies en al… en word harder wanneer dit staan.
- 3 pakke (500 g elk) bruismeel
- 30 ml (2 eetlepels) kremetart
- 30 ml (2 eetlepels) koeksoda
- 30 ml (2 eetlepels) fyn gemmer
- 5 ml (1 teelepel) sout
- 500 g botter of margarine
- 500 g gouestroop
- 1 kg sagte bruinsuiker
- 6 eiers, geklits
- Voorverhit die oond tot 180°C en bespuit ‘n aantal bakplate met kleefwerende kossproei of smeer liggies met botter. Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter in die meelmengsel in. Verhit die gouestroop tot loperig en roer die bruinsuiker in. Roer tot effens opgelos en laat effens afkoel.
- Klits die eiers by en voeg by die droë bestanddele. Meng baie goed en vorm okkerneutgrootte bolletjies.
- Plaas op die bakplate en druk effens plat met die vingers. (‘n Garetolletjie werk ook baie goed.)
- Bak ongeveer 12 – 15 minute tot goudbruin.
- Laat effens op die bakplate afkoel, verwyder en laat verder op ‘n draadrakkie afkoel tot koud.
- Voer koekblikke met waspapier uit en bêre koekies daarin.
- Maak dig toe en bêre op ‘n koel plek.
Nota: Lorinda Cloete –
Druk nie met vurk plat. Maak bolletjies en druk effens tussen hande. Maak oond ook paar maal tydens bak oop dit vermeeder die barsies.
Nota: Landi Hartzenberg Ferreira
Goeie môre aan almal hier vanuit ‘n nat New Zealand. Ek het vandag vir die eerste keer gemmerkoekies gebak. Die resep is op FLR se blog, ek het dit net halveer. Dit is dieselfde resep wat my oorlede Ouma gebak het en dit is regtig heerlik!! Ek vermoed, omdat ons meel hier ‘n bietjie anders is as daar in SA, kon ek glad nie dadelik balletjies rol nadat ek die stroopmengsel by die meel gegooi het nie. Dalkies het ek nog aangejaag iewers, maar ek het die stroop mengsel op ‘n baie lae hitte gehad en effens laat afkoel voordat ek die geklitste eiers bygevoeg het. Ek het nr. 8 eiers (wat groter as SA X-Large/Jumbo eiers is) gebruik en dit kan ook dalk die rede wees dat die deeg bietjie te klam was. Ek het die deeg vir so ‘n uur laat rus en toe was die deeg lekker hanteerbaar. My eerste baksel was ‘n flop en het ek besef dat ek glad nie die balletjies moet plat druk, maar net so in balletjievorm moet los, aangesien die deeg vanself uitsprei. As ek dit baie liggies plat druk, het ek so dun ou gemmerkoekie, maar nog steeds baie lekker. Ek wou maar net my ondervinding hier deel, ingeval hier dalk nog iemand is wat dieselfde ondervind het daar by julle of selfs hier. Dalk moet ek volgende keer net 2 eiers gebruik en nie 3. Tuisgebakte koekies is nou maar net lekkerder as winkelkoekies. Groete
Nota Debbie O’neill:
Al wat ek gedoen het is heuning in stroop se plek gebruik, presies dieselfde hoeveel as stroop sou wees. Ek het so op 12 min gewerk per baksel. (minder krakies, meer gooey in middel)
Gideon Louw:
Ons gemmerkoekies het tog te mooi gekraak.
Ek’t ‘n paartjies ook in gesmelte sjokolade gedip en ‘n bietjie fyn gebreekte amandel neute oor die dipdeel gesprinkel en is djeerlik!
Ek wil net iets byvoeg: Vroulief het by die mengsel ook 2 teelepels witpeper ingewerk en dit het defnitief die gemmer smaak ‘n “boost” gegee.














