BESSIE “SORBET” SPONSKOEKIES MET STROOP
Ek het toe hierdie nagereg gemaak met van die “berry sorbet” waarvoor ek idees gevra het.
Annatjie Klaassen het vir my die maklike mikrogolf “cheater sponge” resep geplaas en ek het dit bietjie aangepas. Ilze Jacobs het voorgestel ek maak ‘n stroop daarvan en ek het bietjie van die “sorbet” daarvoor gebruik. Die sponskoek is regtig lekker vir ‘n vinnige mikrogolf koek en die kombinasie van die koek en stroop met die vars bloubessies was baie lekker. Ek dink mens kan lekker rond speel met hierdie sponskoek resep.
- Beslag:
- 100 g strooisuiker
- 2 eiers
- 125 g bessie “sorbet”, gesmelt
- 100 g bruismeel
Meng die strooisuiker en eiers goed saam. Meng die res van die bestanddele by.
Spuit 6 ramekin bakkies met kossproei en sprinkel liggies met bietjie strooisuiker.
Vul die bakkie half met die beslag.
Maak baie liggies toe met kleefplastiek. (Ek het dit net liggie bo-op gesit)
Bak die ramekins een een in die mikrogolf op vol sterkte vir 40 sekondes. Herhaal tot almal klaar is.
Laat staan die koekies ‘n rukkie, maak los om die kante en keer uit, of steek gaatjies in met ‘n stokkie, en gooi die stropie oor, en bedien met bessies.
- Stroop:
- 1 koppie “berry sorbet”
- ½ koppie suiker of versoeter of na smaak
- ½ koppie water
- 1 eetlepel Maizena, aangemaak met bietjie water
Plaas die sorbet, water en suiker op die stoof in ‘n potjie en kook stadig tot alles gesmelt is.
Draai die plaat laag en terwyl jy roer voeg die Maizena stadig by. Voeg net eers die helfte by en as die stroop se dikte na jou smaak is, moenie die res byvoeg nie, anders voeg alles by totdat die dikte na jou smaak is.
Skep uit in ‘n houer en laat koud word. Bewaar in die yskas.
Om te bedien, skep van die stroop oor die sponskoek, versier met vars bessies of na smaak. Vars room is ook baie lekker saam met die stroop.
Mens kan die volgende dag die sponskoekies net weer vinnig in die mikrogolf warm maak voor jy hulle bedien, en dit is so goed soos vars gebak.
Resep en foto: Rina Kleinhans