Your Recipe Blog

BASIESE DEEG VIR BROOD, VETKOEK ENS.

Avatar photo
Recipe by

BASIESE DEEG VIR BROOD, VETKOEK ENS.

Op al die fotos, of dit vetkoek vir ‘n bredie is, vir die rooster om te braai as alternatief vir die braabroodjie, stoombrood of gewone brood, gebruik ek altyd dieselfde basiese deeg. Daar is ‘n magdom resepte beskikbaar en die bekendste is seker die wat gebedel is by elkeen se ouma.

  • 3 gelykvol koppies koekmeel (cake wheat flour)
  • 10 g kitsgis of 1 klein pakkie
  • 30 ml suiker
  • 375 ml louwarm water
  • sout
Meng al die louwarm water, gis, suiker en ‘n ½ koppie koekmeel saam.
Roer liggies deur en bedek met ‘n skoon vadoek en laat staan vir so 10 minute tot die gis aktiveer.
Voeg daarby die sout en oorblywende 2 ½ koppies koekmeel.
Knie in die menger of as jy so voel met die hande tot ‘n mooi deeg vorm en nie meer vassit aan jou hande nie.
Bedek en laat rys in ‘n warm plek tot dubbel die volume.
Om vinniger te werk, smeer ek sommer dieselfde mengbak liggies met olie, bedek dit en plaas met ‘n gewig bo-op die deksel in ‘n skoon wasbak half gevul met warm water. Die hitte dring baie vinnig deur tot by die deeg.

VETKOEK
Rol die deeg uit, nie alles met een slag nie, op ‘n meel bestrooide oppervlak. Ek het gevind dat indien jy al die deeg met een slag uitrol klou die deeg later vas aan alles. Ek gebruik sommer ‘n eier ring om die vorms mooi uit te druk en hanteer dit versigtig tot in die olie.
Bak in medium warm olie en skep van die warm olie bo oor tot die vetkoek mooi rond word. Draai die vetkoek dadelik om anders bars hy oop. Draai gereeld om.
Vir hol vetkoeke rol ek die deeg dunner uit. Meer ‘n broodjie tipe vetkoek, bietjie dikker. Moet nie bang wees om te eksperimenteer nie.

STOOMBROOD
Ek gebruik dieselfde deeg vir my stoombrood. Vir ‘n kleiner broodjie plaas ek 50g to 75g deeg in gesmeerde ramekin bakkies.
Plaas in ‘n stomer met genoeg water vir so plus minus 40 minute.
Ek gebruik die Tupperware stomer op die gasstoof.
Baie lekker.

BROOD IN DIE OOND
Smeer ‘n kleinerige broodpannetjie. Rol al die deeg redelik dun en langwerpig uit. Rol die deeg vanaf ‘n kant op met jou hande en plaas in die gesmeerde pannetjie.
Laat weer rys en bak dan in die oond teen 210 of 220° C tot gaar en dit hol klink. Onthou stel die temperatuur laer indien jy ‘n thermofan oond gebruik.
Haal uit en smeer met botter, sterk swart koffie of net waarvan jy hou vir ‘n sagter broodjie.

Notas:
Soos met baie dinge vat dit tyd en geduld om reg te kry. Miskien ‘n klein bietjie meer meel, dalk langer knie of dalk ‘n bietjie langer laat rys?
Die resep is baie basies en daar is geweldig baie variasies en byvoegings.

Resep en fotos : NM Swanepoel

One Review

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page