ANRI SE DADELKOEKIES / BOLLETJIES
Hier is my dadel klapper koekies wat ek onlangs gemaak het, iemand het gevra vir die dadel resep!
In plaas van in blokkies sny, rol ek myne terwyl dit nog warm is in klapper, maar mens kan dit in ‘n bakplaat vasdruk, klapper oor strooi en dan sny in blokkies.
- 1 koppie margarien
- 1 teelepel vanilla geursel
- 1 pakkie Marie beskuitjies, gebreek
- 1 koppie suiker
- 1 koppie pitlose dadels, gesnipper
- 2 eiers
- klapper
Smelt margarien en suiker en voeg die dadels en vanilla by. Haal van die stoof af.
Klits eiers en voeg in ‘n dun straaltjie by die dadelmengsel in terwyl jy vinnig klits anders sal die eier gaar word, roer baie goed.
Sit terug op die stoof en kook tot dik, haal van die stoof af en voeg gebreekte Marie beskuitjies by. Meng goed deur.
Strooi klapper in ‘n bakplaat en skep jou mengsel bo-oor, maak gelyk en strooi weer klapper oor indien verkies.
Laat dit afkoel en sny in blokkies.
Of rol in bolletjies terwyl die mengsel warm is en doop in klapper.
Sit neer om koud te word, bere in lugdigte houer.
Foto: Anri Loots