ANNELIZLE SE SJOKOLADEKOEK
- 2 koppies suiker
- 6 groot eiers
- 1 teelepel vanilla geursel
- knippie sout
- 2 koppies koekmeel
- 4 teelepels bakpoeier
- 4 eetlepels hoogvol kakao
- 1 ¼ koppie warm water
- 6 eetlepels olie
- Sjokolade versiersel:
- 3 koppies versiersuiker
- 1 koppie botter
- 150 ml melk
- 1 koppie kakao
Voorverhit oond tot 180 grade C.
Klits die suiker en eiers tot lig en romerig.
Voeg vanilla en sout by.
Voeg die koekmeel by en meng goed deur.
Meng die kakao, warm water en olie saam. Strooi die bakpoeier oor die nat bestanddele dat dit bruis.
Voeg die watermengsel by die droë bestanddele en meng deur.
Verdeel deeg in 2 voorafbereide koekpanne (22 cm elk) en bak vir 30 minute of tot gaar.
Keer uit op ‘n afkoel rakkie en laat heeltemal koud word.
Versiersel:
Room botter en voeg die res van die bestanddele by. Klits goed tot lig en romerig.
Versier koek met versiersel volgens smaak.
Nota:
Ek gebruik ekstra donker/bitter kakao vir ‘n heerlike smaak.
Resep en foto: Annelizle Botha
- Variasie: Pepperment Vulsel
- 250 ml room, styf geklits
- ½ blikkie karamel kondensmelk
- 1 plak pepperment sjokolade grof gerasper
Vou kondensmelk en sjokolade in by styf geklitste room.
Smeer vulsel tussen lae en bo-oor sodra koek koud genoeg is. Plaas in yskas om te stol.
Resep en foto: Corne van der Merwe