ANMARIE SE GEBAKTE KAASKOEK
Gebruik ‘n 23 cm losboom pan.
- Kors:
- 100 ml botter
- 175 ml koekmeel
- 100 ml suiker
- 5 ml bakpoeier
- 2 eiers
- knippie sout
Klop botter en suiker tot romerig. Roer eiers een vir een by.
Sif droë bestanddele by en meng deeglik.
Smeer in panne met agterkant van ‘n lepel.
- Kaaskoek:
- 4 jumbo eiers
- 250 ml suiker
- 60 ml suurlemoensap
- 3 houers gladde maaskaas (230 -250 g elk)
- 250 ml room
- 125 ml koekmeel
Klits eiers en suiker tot lig en romerig.
Roer res van bestanddele by en meng goed.
Giet beslag in voorbereide pan met die kors.
Bak vir 10 min in voorbereide oond 180ºC.
Verlaag temp na 140ºC en bak verder vir 1 uur.
Skakel oond af en laat afkoel in oond.
Resep: Anmarie Watney
Foto 1: Elaine Steyn Steyn
Nota:
Die bogenoemde vulsel is gebruik en het dit vir ongeveer 2 ure gebak in ‘n waterbad.
Gebak met tuisgemaakte maaskaas, resep volg:
Koop ‘n bottel AMAZI, sit 4 nappy liners of kaasdoek in ‘n sif oor ‘n bak, giet die Amazi in.
Laat staan oornag – selfs tot 2 dae – sodat vloeistof kan skei van mekaar.
Gooi die water gedeelte weg en die maas wat bo op die liners lê, kan jy gebruik vir maaskaas.
Geur soos jy lus het.
Goeie raad is om bietjie sout in die Amazi te sit aan die begin van die proses.
Idee: Anina Jeannette Smith
- Kors resep wat ek gebruik het vir die kaaskoek op die foto:
- 2 koppies koekmeel
- ½ koppie suiker
- 1 eier
- 100 g margarien
- 1 teelepel bakpoeier
- 30 ml olie
Vryf botter in droë bestanddele, meng olie en eier by. Meng goed om deeg te vorm.
Druk vas onder en aan kante van losboompan. Nie nodig om eers te bak nie, kan vulsel net so insit en die kaaskoek bak.
Resep van kors: Johan van Lelyveld
Foto’s 2 en 3 – Rina Kleinhans
Ek het gisteraand hierdie kaaskoek gebak en mense hy is heerlik. Ek het net teen baie laer hitte gebak, 10 min op 160ºC en toe 90 min op 110 ºC. Plaas ‘n bakkie water in die oond terwyl jy die kaaskoek bak.
Ek het hom nog nie versier nie, maar gaan hom net bedien met granadella stroop… ek het ook sommer ‘n Tennisbeskuitjie kors onder gesit, maar eerlik… julle kan hom maar maak, dit is soooooo maklik.
That looks absolutely amazing i am going to try this one definitely.
Absoluut ‘n wenner, die geheim le in die baie stadig bak…
Vinnige vragie. Hoe groot was jou pan Waarin jy gebak het? Myne was 24cm en het bo die rand uitgestyg? Maar lyk baie lekker
Ek het ‘n 23 cm pan gebruik soos bo aan die resep se, maar ek is baie bly die kaaskoek het mooi gekom. Geniet hom.
Room hoef nie styf geklits te word nie? Gooi net so in?
Hallo Annelien
Nee die room gaan net so by en dan klits mens alles saam, geniet dit baie?