ALICE SPRINGS HOENDER
“My interpretasie van Alice Springs chicken…’n baie lekker resep van Australië via die VSA. ‘n Bonus – want dis keto/low carb ook! Maar bitterlik lekker…maak nie saak hoe jy eet nie.”
- Hoender:
- 2 eetlepels olyfolie
- 4 hoenderborsies, plat gekap met ‘n koekroller
- 2 teelepels knoffelpoeier
- sout en peper, na smaak
- 1 koppie rou sampioene, gekap
- ½ koppie gaar spekstukkies
- 50 ml kookwater
- Sous:
- ½ koppie mayonnaise
- 3 eetlepels geelmosterd (Amerikaanse mosterd)
- 2 teelepels Dijon mosterd
- 2 eetlepels versoeter (heuning as jy nie lae koolhidrate doen nie)
- 1 koppie Cheddar kaas, gerasper
Braai die hoenderborsies, gegeur met die knoffelpoeier, sout en peper, weerskante in die olie tot ligbruin.
Haal die hoender uit die pan en plaas dit in ‘n gesmeerde bakskottel.
Braai die sampioene in dieselfde pan tot gaar en roer die spek by met 50 ml kookwater.
Versprei alles bo-oor die hoender. Meng die sousbestanddele saam, en skep ook bo-oor die hoender.
Sprinkel die kaas bo-oor en bak vir 30 minute bedek by 190 °C, en 10 minute oop by 200 °C.
Bedien met groente of ‘n slaai van jou keuse.
Resep en foto; Ilze Jacobs