ADAM SE GEROOSTERDE HOENDERRUGGIES IN KERRIESOUS
- 6 hoenderruggies
- olie vir braai
- 1 groot ui, in dik skywe gesny
- 3 knoffeltoontjies, in skyfies gesny
- sap van een suurlemoen
- 50 g tamatiepasta
- 3 eetlepels esdoringstroop (of heuning)
- ½ koppie water
- 2 teelepels medium sterkte kerriepoeier, of na smaak
- 1 teelepel gedroogde tiemie
- sout na smaak
Verhit olie in ‘n kastrol of diep pan en braai die uie en knoffel met ‘n knippie sout, totdat dit begin karameliseer.
Skep die gebraaide uie en knoffel uit die kastrol en hou eenkant.
Plaas die hoenderruggies in dieselfde kastrol en braai die hoender tot goudbruin, indien nodig kan nog bietjie olie bygevoeg word.
Meng die tamatiepasta, suurlemoensap, stroop, water, kerrie en tiemie en voeg dit by die hoender in die kastrol.
Laat prut die hoendermengsel vir 10 minute, terwyl die hoender gereeld omgedraai word.
Geur die hoender met sout na smaak.
Indien die sous te dik raak, voeg ’n bietjie water by.
Plaas die hoender oor in ‘n oondbak met die hoender se velkante na bo en giet die sous bo-oor.
Sprinkel die uie en knoffel bo-oor die hoender en plaas die bak in ‘n voorverhitte oond van 200ºC en bak die hoender vir ongeveer 20 minute tot die hoender mooi verbruin het.
Indien jy dit bedien met iets wat ‘n sous benodig, kan nog ‘n bietjie water bygevoeg word.
Resep en foto: Adam Cloete