AARTAPPELSUURDEEG BROOD
Maak die suurdeeg plantjie voor die tyd en bere hom vir al jou lekker gebak wat gaan volg.
Gisplantjie:
Rasper 1 geskilde aartappel en gooi in ‘n 1 liter fles met ‘n los deksel.
Strooi 1 teelepel sout en 2 eetlepels suiker oor.
Strooi 1 pakkie kitsgis by en maak bottel driekwart vol met lou water.
Sit so 6 rosyne by en sit die deksel op die fles. Moenie vasdraai nie.
Laat op ‘n warm plek staan oornag.
Sif die volgende oggend die skrapnel uit en soek die rosyne. Hou ‘n kwart van die vog en aartappel en die rosyne.
Plaas in die bottel en rasper weer ‘n aartappel in.
Sit weer 1 teelepel sout en 2 eetlepels suiker by en vul weer aan met lou water tot driekwart.
Laat weer staan tot die derde oggend.
Herhaal weer die proses soos op die tweede dag. Maar gebruik die gesifte vloeistof om mee te bak. 1 koppie vloeistof per 1 kg meel.
Hou weer ‘n kwart van die vloeistof, aartappel en rosyne soos op die tweede dag.
Jy moet hom elke dag kosgee soos op die tweede dag. En as jy nie wil bak nie slaap hy in die yskas. As jy weer wil bak, haal die aand voor die tyd uit.
- BROOD:
- 2 kg koekmeel
- 2 koppies aartappelsuurdeeg
- 2 eetlepels sout
- klont botter (ongeveer 3 eetlepels)
- lou water om mee te knie
Meng die meel en sout en frummel die botter in. Voeg die suurdeeg by en meng goed deur.
Voeg die water in en meng tot ‘n deeg. Knie baie goed. Omtrent 30 min.
Smeer botter oor die goed gekniede deeg en maak warm toe om te rys. (± 2 ure)
Knie af, maak warm toe en laat weer uitrys (2 ure).
Maak panne op en laat uitrys tot bo.
Bak vir ongeveer 45 min by 180 – 200°C tot deurgebak.
Keer uit en smeer botter op die korsies. Maak lekker toe en laat afkoel.
Geniet.
Nota:
Hier het ek ‘n groot en klein broodjie gebak, en sowat 25 vetkoeke ook van die bostaande resep se deeg.
Resep en foto: Frikkie Jones
Ek gaan hierdie beslis probeer! Soek al lank na ‘n aartappelsuurdeeg brood resep. Ek bak boerbeskuit van aartappelsuurdeeg. Ek sou ook graag hierdie resep wou gebruik om rosyntjie brood te bak, enige resep beskikbaar? Ek het maar die basiese by my mag geleer om die beskuit te bak, so ek weet nie regtig hoe om aanpassings te maak vir bv rosyne brood nie. Kan nie wag om hierdie resep te probeer nie!!
Hi Alta, baie bly jy gaan die resep probeer, jy kan net die rosyne by die resep insit, op een van twee maniere. Week die rosyne oor die tyd vir ‘n rukkie min water wat hulle uitswel, dreineer en voeg by jou deeg in, anders kan jy die rosyne in meel skud en dit net so in die deeg inknieë, dit verhoed dat al die rosyne onder gaan le. Hoeveelheid hang af van die grootte brood jy bak. Hoop dit help.
Lekker bak.
Rina