AARTAPPEL- EN BOELIEBEEFPOFFERTJIES
Ek en aartappels! (Oumatjie het gesê, ertappels) Ons is beslis “gebind” aan die heupe en dis regtig letterlik en figuurlik die geval. Ek gaan winkel toe vir melk en wanneer ek by die toonbank kom om te betaal, hoor ek hoe hulle (die aartappels) my roep “jyt ons vergeet”, en dan gaan haal ek maar ‘n paartjies vir die wis en die onwis. Die mense beweer daar’s oor die 400 aartappel resepte, ek trek nou eers by 15, ek dink.
Maar hier’s vanaand se aandete.
- 4 groot aartappels, geskil, gekook en fyngedruk
- sout en peper na smaak
- 1 groot ui, fyn gekerf
- 1 blikkie boeliebeef, in klein blokkies gesny
- ½ koppie vars pietersielie
- 2 koppies kaas, gerasper
- 1 koppie Maizena
- 1 teelepel knoffelpoeier
- 1 teelepel uiepoeier
- olie vir diepbraai
Meng al die bestanddele saam in ‘n mengbak.
Verhit olie in ‘n pot op die stoof.
Maak balletjies van die mengsel en diepbraai die balletjies in die warm olie tot mooi goudbruin.
Bedien warm of koud, dis regtig lekker.
Resep en foto: Ria Posthumus