IDEES OM BRUSSELSE SPRUITE GAAR TE MAAK
Janet Venter:
Middag al die mense, ek wil gou weet hoe maak ek “Brussel sprouts” gaar, maar nie in potjiekos nie. Apart as ‘n gereg. Baie dankie.
Carol Maloney van Zyl:
Moenie lank kook nie. Dit word bitter.
Ina Vermaak:
Stoom dit tot net gaar en skud met botter en gerasperde neutmuskaat bo-oor.
Cherryll van Niekerk:
Was, sny middeldeur, smelt botter in ‘n pan, voeg die spruite by die botter. Draai en roer gereel tot net gaar, geur met sout, peper en neutmuskaat.
Junita Piek:
Kook tot ‘n vurk sag ingaan, sprinkel lekker sout, peper en kaas bo-oor.
Alma Muller:
Kook tot gaar, braai uie en sampioene, voeg bymekaar en skud die pan. Voeg klein bietjie soetrissiesous by.
Jy kan bietjie parmesaankaas liggies oor rasper.
Patricia Strydom Hendriks:
Kook volgens keuse tot sag of medium met knoffelbotter en krakerige gebraaide spek.
Charmaine Steenberg:
Kook tot sag, maak ‘n kaaswitsous, plaas die sous bo-oor en strooi ekstra kaas oor. Verhit in die mikrogolf om die kaas te smelt en geniet.
Marie Pearson:
Kook die spruite in soutwater tot amper sag. Maak ‘n knoffelbottersous en giet dit bo-oor. Jy kan ook ‘n kaassous of pepersous maak en bo-oor voeg.
Magda Van der Westhuysen:
Dis die heel lekkerste wanneer dit gerooster is. Sny in die lengte middeldeur, smeer met bietjie olie en rooster in die oond of lugbraaier op 190°C tot gaar.
Susan Holtzhausen:
Stoom dit met ‘n bietjie sout en ‘n teelepel suiker by. Sodra dit sag is, dreineer die water af. Braai ‘n fyn gesnyde ui met bietjie botter, knoffel en groente speserye in ‘n pan. Voeg die spruite by die uie en braai verder. Jy kan spek byvoeg of net so, dis heerlik verby.
Elsabie Templeton:
Sprinkel knippie koeksoda oor, en stoom in min kookwater. Dit behou die mooi helder groen kleur.
Elize Fritz:
Ek braai dit met groen soetrissie en spek.
Renata Schwarz:
Halveer die spruite, verf met botter en braai in lugbraaier (airfryer).
Ge-halveer, gebraai in pan met botter en knoffel.
Gestoom en terwyl nog warm, smeer met bietjie botter.
Enige manier, maar sprinkel altyd met fyn neutmuskaat, dit bring die geur uit.
Anse De Bruin:
Kook met bietjie sout tot amper gaar, dreineer en roer 2 teelepels grondboontjiebotter in, heerlik.
Marie Dreyer:
Braai uie en spekstukkies in ‘n pan tot gaar en verwyder. Braai die spruite in dieselfde vet tot sag en meng met die spek en uie.
Annetjie Kleynhans:
Stoom in die mikrogolf met paar eetlepels water. Voeg botter, kruie en suurlemoenpeper op. Njammies.
Theo Rossi:
Kook die spruite in ‘n pan, dreineer die water. Giet room oor laat dit prut. Sprinkel parmesaan kaas oor en bedien.
Elmarie Van Zyl Habeck:
Stoom die spruite tot sag en braai in botter en appelkooskonfyt.
BRUSSELSE SPRUITE- EN AARTAPPELGEREG
- 1 kg aartappels, geskil
- 350 g spruite
- 100 g ontbytspek, gesnipper
- 1 ui, fyn gekap
- 25 g botter
- olyfolie
- 50 g soetmelkkaas, gerasper
- 15 ml melk
- sout na smaak
- fyn neutmuskaat
- 125 ml room
- 1 blokkie vleisaftreksel opgelos in kookwater
Kook die aartappels en spruite in soutwater tot amper gaar, dreineer en plaas in ‘n oondbak.
Braai die spek en uie in die botter en olyfolie tot gaar en sprinkel oor die aartappel en spruite.
Meng die melk, kaas, sout, neut, room en aftreksel en giet die mengsel oor die aartappels en spruite. Bedek met foelie en bak in ‘n warm oond tot aartappels en spruite sag is en die vloeistof amper weggekook is. Bedien as bykos of net so as ‘n gereg.
Resep: Elbie Gouws
Helen Brancart Fourie:
“Steam cuisine” werk fantasties vir spruite, stoom die spruite tot gaar. Strooi sout en peper oor. Los die spruite in die stomer om warm te bly. Braai paar repies strepies spek in bietjie botter en olyfolie so gaar soos jy daarvan hou. Snipper die spek en strooi dit oor die spruite. Giet die pansouse oor en roer deur. As jy wil kan jy bietjie gerasperde sterk Cheddarkaas oor strooi.
Foto en nota:
Ilze Jacobs – Of jy lief hulle of jy haat hulle, maar ek belowe dat as jy “Brussels sprouts” so gaarmaak, omtrent almal daarvan gaan hou!
Skakel na Ilze se resep:
https://yourrecipeblog.com/recipes/romerige-kaserige-brusselse-spruite/