GEMMERBESKUIT
- 5 koppies (700 g) bruismeel
- 2.5 ml sout
- 2.5 ml bakpoeier
- 2.5 ml koeksoda
- 250 ml suiker (ek verminder na 200 ml)
- 250 g botter, gesmelt
- 250 ml karringmelk
- 1 groot eier, geklits
- 125 ml room of melk
- 65 ml olie
- 2 eetleppels suurlemoengeursel
- 1 suurlemoen se skil, fyn gerasper
- 125 ml – 250 ml gemmerlekkers of ingelegde gemmerstukke, opgekap
https://yourrecipeblog.com/recipes/ingelegte-gemmerstukke/
Sif die meel, sout, bakpoeier en koeksoda saam in ‘n mengbak.
Meng die suiker, met die res van die bestanddele in ‘n mengbak en voeg dit by die droë bestanddele en meng goed deur tot ‘n deeg.
Plaas die deeg in panne van eie keuse en bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 35 min tot gaar.
Keer die gaar beskuit uit die panne op ‘n afkoelrak en laat dit afkoel.
Sny die beskuit in vingers, pak dit op bakplate en droog die beskuit in ‘n louwarm oond.
Nota:
Om die gemmerlekkers te maak – wanneer ek ingelegde gemmer maak, gebruik ek die eerste afkook water, laat dit afkoel en meng met suiker soveel na eie smaak. Kook die stroop tot lekker soet, verdik met gelatine of Maizena. Meng droë Maizena en versiersuiker en sprinkel onderin ‘n bak. Giet die dik vloeistof oor die Maizena- en versiersuikermengsel. Strooi weer van die Maizena- en versiersuikermengsel oor die dik vloeistof. Plaas dit eenkant om heeltemal af te koel en te stol. Sny in blokkies en draai die lekkers toe in waspapier. Die gemmerstukke kook ek droog in die stroop, ek bottel nie myne nie.
Resep en foto: Veronica Langenhoven
Die resep lyk baie lekker… ipv gemmer lekkers kan ek net fyn gemmer poeier gebruik. wil graag gemmer beskuit bak en jou resep probeer asb.
Hallo Sarie ek is seker jy kan dit met gemmer poeier vervang maar ek het geen idee hoeveel nie, ek dink jy moet maar na smaak gaan en bysit tot dit vir jou reg proe. Die gemmer stukkies is smaak is heerlik in die beskuit.