GEKRUIDE BRAAI AARTAPPELS MET BRANDRISSIESOUS
My eerste resep met Ras-el-Hanout is hierde “anderse” weergawe van die bekende Spaanse “Patatas Bravas”. Dit is heerlik saam met braaivleis – veral so op ‘n koue wintersdag.
As jy nie die Ras-el-Hanout wil gebruik nie, vervang dit net met paprika.
- 4 medium grootte aartappels, gaar gekook met die skil aan en afgekoel
- olyfolie, genoeg om die bodem van ‘n pan te bedek
- geelsout na smaak, gebruik gewone sout as jy verkies
- 5 ml Ras-el-Hanout speserymengsel (https://yourrecipeblog.com/recipes/ras-el-hanout/)
- 125 ml tamatie-en-uie smoor, gebruik sommer uit die blikkie uit
- 60 ml brandrissiesous van jou keuse
- 60 ml maas, jy kan karringmelk of gewone joghurt gebruik as jy nie maas het nie
- 60 ml mayonnaise
Sny die aartappels in skywe.
Verhit olie oor medium hitte en voeg die aartappel skywe by.
Besprinkel met jou geelsout en Ras-el-Hanout, braai terwyl jy telkens die skywe draai tot ligbruin aan weerskante.
Voeg die tamatie-en-uie smoor by en kook vir 5 minute.
Meng saam: brandrissiesous, maas, mayonnaise.
Voeg die mengsel by die aartappels en laat deurkook tot die sous lekker verdik het.
Pas sout aan na smaak indien nodig.
Variasie:
As daar van die aartappels oor is, gebruik dit more-oggend vir ontbyt – sny dit net in kleiner stukke en verhit in ‘n pan met uie en opgesnyde varkworsies. Bedien met ‘n lekker gebakte eier.
Resep en foto: Karen Homan