ILZE SE ROOMKAAS, SONGEDROOGDE TAMATIES EN BASILIEKRUID HOENDERBORSIES
Dit is warm, maar ek is lus vir warm kos…so vanaand eet ons ‘n Caprese (slaai van tamaties, mozzarellakaas en basiliekruidpesto of vars basiliekruid), gestopte hoenderborsies met roerbraai groente! Njam…
- 2 hoenderborsies, ontbeen met vel aan
- 4 eetlepels roomkaas
- 6 songedroogde tamaties, in olie
- 12 basiliekruidblare
- sout en peper
- 150 ml room
- Vir bykos, hoeveelhede na gelang van aantal porsies:
- murgpampoentjies, opgesny
- groenbone, opgekerf
- pak choy*, opgesny
- ertjies
- pitmielies
Sny hoenderborsies in die lengte oop, maar nie dwars deur nie, dit moet ‘n sakkie vorm.
Smeer twee eetlepels roomkaas in elkeen, plaas drie songedroogte tamatieskywe bo-op die roomkaas en ses basilkruidblare bo-op die tamatie in elke borsie. Vou toe, sprinkel met sout en peper en plaas op ‘n oonpan.
Bak in die oond by 180 °C vir 35 – 40 minute (of tot deurgaar).
Giet room rondom borsies vir laaste 10 minute van baktyd. Skep roomsous bo-op elke borsie en bedien met murgpampoentjies, groenbone, pak choy, ertjies en pitmielies wat vinnig saam geroerbraai is met bietjie sout en kruie van jou keuse.
Nota: Rina Kleinhans
Om te verhoed dat dit uitkook, kan jy die borsie toe steek met tandstokkies indien verkies.
Inligting:
*Hierdie groente, met Chinese oorsprong – ook bekend as Bok Choy of Chinese witkool – is meestal in Asië beskikbaar, maar ook by sommige winkels in Suid-Afrika.. Dit is bekend vir die dik, bros en sagte wit stingels. Dit is ook heerlik rou. Plaasvervangers is seldery, rooikool, gewone kool, spinasie, ‘Swiss Chard’ of wat ookal jy verkies.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs












