ELAND RUGSTRING STEAKS MET PARMASAN KORS EN PIETERSIELIE ROOMSOUS
Hierdie kors en roomsous is heerlik saam met die wild, ek kan dit regtig aanbeveel.
- 4 eland rugstring steaks
- 40 g Parmesan poeier of kaas, baie fyn gerasper
- 1 eier
- 30 ml karringmelk
- 1 eetlepel Dijon mosterd
- gegeurde koekmeel (sout, peper en speserye na smaak)
- botter en olyfolie vir braai
- Sous:
- 2 eetlepels botter
- 2 eetlepels koekmeel
- knoffel na smaak
- 250 ml room
- 1 handvol fyngekapte vars pietersielie
- sout en swart peper na smaak
Klits die eier, mosterd en karringmelk saam.
Rol die steaks in die meel, dan in die eiermengsel en dan in die parmesan. Pak oop op ‘n bord en sit in die yskas vir ongeveer 1 uur.
Verhit die botter en olyfolie en plaas die steak daarin, die hitte moet nie te hoog wees nie dan verkleur die botter. Laat dit ongeveer 2 min braai, en draai om met ‘n tang. Wees versigtig dat die krummellaag nie afkom nie. Braai die ander kant en hou maar dop, hang af van die dikte, hulle word redelik vinnig gaar maar is nog effen rooi in die middle. Wildvleis moet “medium-rare” wees anders is dit droog.
Laat rus vir ongeveer 10 min en bedien.
Sous:
Smelt die botter en braai die knoffel so 1 min, maak dan ‘n roux met die koekmeel en haal van die plaat af, roer die room by. Dit mag lyk as of die sous skei, maar hou maar net aan met klits dit kom perfek reg na ‘n rukkie. Sit die pan terug op lae hitte en roer tot die sous mooi glad en romerig is, proe vir sout en peper en voeg by. Voeg die pietersielie by en roer deur. Indien die sous te dik is kan bietjie melk by geroer word.
Bedien saam met die steak.
Resep en foto: Rina Kleinhans












