GRONDBOONTJIE NAKKIES
Resep: Corrie Ludik
Foto en kommentaar: Carina van Niekerk
Ek het 3 kg grondbone present gekry en ons gesin eet dit nie eintlik nie. Ek onthou toe dat my oorlede tannie altyd die grondboontjies met die suiker lagie op gemaak het. Gaan soek toe op die blog en vind die resep. Dit lyk eenvoudig, so ek spring in en maak. Dit was ‘n sukses (kan mens dit ooit opmors?) maar ek kan nie help om te giggel oor die laaste gedeelte van die resep nie. “Lw dit is baie warm. Pasop om nie hande en vingers te brand nie.” Wel, dankie vir die waarskuwing, al was dit in my geval nie idiot-proof nie! Volgende keer sal ek bietjie minder kleursel ingooi en sorg dat ek nie weer brand nie!
- 7 koppies rou grondboontjies (± 1 kg)
- 3 koppies suiker
- 2 koppies water
- ongeveer ¼ teelepel kleursel
- Plaas alles in ‘n kastrol en kook tot droog (roer gereeld om bone van mekaar te hou).
- Voeg die kleursel by terwyl dit gekook word.
- Wanneer droog gekook, skep in ‘n oondpan, krap alles mooi oop en bak in die oond tot droog by 180ºC.
- Roer/krap kort, kort deur sodat dit nie aan brand nie.
- Laat afkoel en verpak lugdig.
- LET WEL: Dit is baie warm. Pasop om nie hande en vingers te brand nie.












